FOCCACIA MET GEROOSTERDE GROENTE EN BOKMELKKAAS
- The Rainbow Team
- Jun 11, 2014
- 1 min read
Foccacia met geroosterde groente en bokmelkkaas
Jy sal foccacia by die meeste winkels te koop kry - en as jy nie gereeld by die winkels uitkom nie, koop twee of drie wanneer jy daar is en vries dit vir later. Dié brood is lekker vir 'n ligte middagete saam met 'n groen slaai en ideale piekniekkos, want dis louwarm of koud ewe lekker.
30 ml botter
250 g salotte of piekeluie, geskil en gehalveer
500 g pampoen- of botterskorsieblokkies
1 groot foccacia
Sout, swartpeper en olyfolie
1 rolletjie (100 g) bokmelkkaas
Vars kruie, soos salie of tiemieblaartjies
Ekstra olyfolie en balsamiese asyn
Voorverhit die oond tot 190 °C. Smelt die botter in 'n groot pan en braai die uie stadig oor lae hitte tot goudbruin en sag. Terwyl die salotte braai, stoom pampoenblokkies in die mikrogolf tot net-net sag (dit neem ongeveer vyf minute). Pak die uie en pampoen bo-op die foccacia, geur met sout en peper en bedruip met olyfolie. Sny die bokmelkkaas in stukkies en sprinkel bo-oor. Bak vir ongeveer 10-15 minute of tot die kaas gesmelt en die pampoen goudbruin is. Sprinkel die kruie oor sodra die brood uit die oond kom en bedruip liggies met nog 'n bietjie olyfolie en met balsamiese asyn. Genoeg vir 10-12 mense.
Bron: landbou.com

Comentários