PAMPOENPOFFERS MET KARAMELSOUS
- The Rainbow Team
- Jun 11, 2014
- 1 min read
Dié is eintlik te lekker om 'n bykos te wees. As jy nie lus is om die sous te maak nie, druk suurlemoensap oor die gaar poffertjies uit en besprinkel met kaneelsuiker.
250 ml gaar pampoen, goed fyn gedruk
1 ekstra-groot eier
1 ml sout
30 ml kaneelsuiker
60 ml melk
10 ml bakpoeier
250 ml koekmeel
Olie, vir braai
Sous
250 ml suiker
15 ml botter
80 ml kookwater
180 ml warm melk
80 ml koue water
15-20 ml vlapoeier
1 ml sout
5 ml vanielje- of karamelgeursel
Poffertjies: Meng die pampoenmoes, eier, sout, kaneelsuiker en melk saam. Sif die meel en bakpoeier en roer die pampoenmengsel by. Braai teelepelsvol in vlak olie tot bros en deurgaar. Dreineer op kombuispapier en hou eenkant warm. Sous: Verhit die suiker, botter en kookwater saam oor lae hitte tot die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en prut tot karamelkleurig. Roer die melk by en laat weer opkook. Meng die koue water, vlapoeier en sout tot 'n gladde pasta en voeg by die melkmengsel. Verhit, terwyl geroer word, tot kookpunt. Laat saggies prut tot die sous effens verdik is. Verwyder van die hitte en roer die geursel by. Skep die sous oor die poffertjies en sit voor. Lewer ongeveer 35 poffertjies.
Bron: Tradisioneel

Comentarios