Bolognese Sous vir Pasta
- The Rainbow Team
- Jul 22, 2014
- 2 min read

Wie het nog nooit 'n Bolognese sous vir pasta gemaak nie? Seker niemand nie, want in Suid Afrika is dit seker die mees algemene sous wat vir pasta gemaak word. Dit is ook die eerste sous wat ek gemaak het, en Gideon my seun het baie gou hierdie werkie oorgeneem en Bolognese sous met spaghetti vir al sy maters wat kom kuier gemaak.
Maar hier in Italie het ek baie dinge geleer, en een van die eerste lesse wat Roberto my geleer het is dat hierdie sous allermins sy geliefkooste pasta sous is. Hy, soos byna alle Italianers, verkies 'n eenvoudige tamatie sous, en Bolognese sous word eintlik net in die stad Bologna gemaak, en is bowenal verbaster deur die wereld buite Italie.
Bolognese sous is in 1982 geregistreer as 'n ware Italiaanse resep deur die "Accademia Italiana Cucina" wat waghou oor tradisionele Italiaanse resepte, en bestaan uit gemaalde beesvleis, pancetta (ongerookte spek), uie, tamatie pasta, vleis ekstrak, wit wyn en melk. En om dit vir 5 of 6 ure te kook, is gladnie ongewoon nie.
Bolognese sous word ook tradisioneel bedien met vars gemaakte tagliatelle, en word in Bologna nooit bedien met spaghetti soos algemeen reg oor die wereld nie. Die idee is dat 'n breer pasta hierdie ryk vleis sous baie beter hanteer.
Hoekom praat ek vandag oor Bolognese sous? Omdat ek gister vir ons 'n wonderlike, heerlike Bolognese sous gemaak het vir pasta. Ek het probeer om al die verskille basiese riglyne te volg wat die Italianers self gee om 'n goeie Bolognese te maak, en ek deel dit met julle.
Moet nooit 'n té maer vleis gebruik nie, hoe meer vetjies die vleis het, hoe beter is die "ragu".
Voeg die sout onmiddelik by wanneer jy die vleis begin soteer, so laat die vleis onmiddelik sy vog vry tot voordeel van die smaak van die sous.
Voeg die melk by voordat jy die wyn en tamatie bysit om dit te beskerm teen die suur van die wyn en tamaties.
Gebruik 'n lekker swaarboom kastrol wat die hitte hou sodat die sous stadig kan kook sonder dat dele van die vleis koud word. 'n Ysterpot is ideaal hiervoor, of daai wonderlike Franse swaarboom kastrolle!
Kook die sous stadig sonder 'n deksel en op 'n baie lae hitte vir 'n lang, lang tyd, niks minder as 3 ure lank, en selfs meer is goed!
Ek is seker almal van julle het 'n goeie resep vir Bolognese sous. Volgende keer as julle dit maak, hou hierdie punte in gedagte, en kyk net wat 'n wonderlike sous bedien julle vir die familie! Ek kan my net voorstel hoe lekker sal hierdie vleissous wees as dit 'n hele oggend lank op 'n koolstoof geprut het!!
Bron: Living in Italy Blog
コメント