Italiaanse kouevleis-pastei
- The Rainbow Team
- Jul 22, 2014
- 2 min read
deur Barbara Joubert
n Tradisionele Paasfees-gereg in Italië wat my baie aan ons souttert laat dink. Dit word met verskillende soorte koue vleis en kase gemaak. Die pastei moet by kamertemperatuur geëet word.
Genoeg vir 8 – 10
Kors
• 500 g (890 ml) koekmeel
• 250 g (270 ml) botter, in blokkies gesny
• 90 ml koue water
Verhit oond tot 180 °C. Plaas meel en botter in ’n voedselverwerker. Meng goed. Voeg water lepel vir lepel by terwyl die masjien heeltyd loop. Meng tot ’n deeg vorm. Plaas deeg op ’n meelbestrooide oppervlak en rol dun uit. Voer ’n standaardlosboom- koekpan (23 cm in deursnee) uit met deeg. Hou oortollige deeg eenkant.
Vulsel
• 500 g ricotta-kaas
• 200 g mozzarella-kaas, in blokkies gesny
• 250 g ham, in lang repe gesny
• 140 g salami, in lang repe gesny
• 200 g mortadella, in lang repe gesny (sien bl. 34)
• 100 g parmesaankaas, fyngerasper
• 3 eiers, geklits
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 4 hardgekookte eiers, in skywe gesny
Plaas ricotta-kaas in ’n mengbak en maak los met ’n vurk. Voeg mozzarella-kaas, ham, salami, mortadella en parmesaankaas by. Meng goed deur. Voeg geklitste eiers by en geur met sout en peper. Meng goed deur. Skep helfte van mengsel in pan wat met deeg uitgevoer is. Druk mengsel stewig vas in pan. Plaas gesnyde hardgekookte eiers in een laag boop. Skep res van vulsel bo-op eiers en druk stewig vas. Maak oortollige deeg bymekaar en rol dun uit. Sny lang repe uit deeg en plaas repe oormekaar boop
vulsel. Verf repe deeg met ’n bietjie geklitste eier en plaas in warm oond. Bak 1 uur tot deeg gaar is. Haal uit en laat ’n rukkie in pan afkoel voor jy die pan verwyder. Sit voor by kamertemperatuur.
Comments