Perfekte pasta – kook soos ’n Italianer
- The Rainbow Team
- Jul 22, 2014
- 3 min read
deur Liezl Vermeulen
Ek kan myself maklik inleef en verbeel ek is van Italiaanse herkoms: dan ruk ek ‘n groot houtlepel uit en sing luidkeels in die kombuis terwyl ek ‘n groot pot pasta kook – nes ‘n Italiaanse Mamma!
Pasta-maak is spotmaklik, die moeilikste stap is om te kies watter soort pasta jy uit die duisende variasies gaan gebruik.
Persoonlik maak ek altyd pasta as ek op ‘n drafstap is – dit kook immers binne tien minute tot perfeksie! Partymaal is ek sò haastig dat ek (en dit mag jy vir niemand vertel nie) my pasta in die mikrogolf kook. Die resultaat van my desperaat-hastige-mikrogolf-pasta kom egter nooit naby pasta wat ‘n ekstra 5 minute neem en ordentelik gekook word nie, soos ‘n Italianer!
Gooi vir jouself ‘n glas rooiwyn in en neem ‘n ekstra 5 minute om die perfekte pasta te kook. So maak jy:
Liezl se onthou-dinge
Perfekte pasta in 5 basiese stappe:
Meet jou pasta af – Ek het altyd te min of te veel pasta, nooit net genoeg nie. Dit kom van te haastig wees en te wil skat. Probeer jou pasta afmeet, 60g of 125ml droë pasta per persoon, om vermorsing te voorkom!
Geurige water – Geur die water waarin jy die pasta gaan kook met genoeg sout, todat dit effens na seewater smaak. Onthou, die meeste van die sout word saam met die water gedreineer en daarom word ’n ekstra knippie sout gevra om jou pasta goed te geur.
Olie– As kind het my ma altyd gesê ons moet ‘n titseltjie olie by die pasta se kookwater voeg, om te keer dat die pasta nie aan mekaar vasplak nie. Dit is egter nie nodig as die water sò kook dat dit genoeg beweging in die pot veroorsaak nie.
Wenk: As jy wél besluit om ‘n bietjie olie te gebruik, kies ‘n goeie gehalte olyfolie waarvan die smaak die pasta ook sal geur.
Rol-maal-kookpunt – Maak seker dat jy die water tot ‘n rol-maal-kookpunt bring. Dit beteken dat die water nie sal ophou kook as jy die pot begin roer nie. Dit gaan verseker dat die water in die pot genoeg beweeg om te keer dat pasta aan die bodem of aan mekaar vasplak.
Die fênsie term, al denté – Al denté is die Italiaanse term vir die perfekte graad waartoe ons pasta kook. Om jou pasta al denté te kook, moet dit sag en gaar wees, maar ferm as jy dit byt. Daarom is dit belangrik om by die stoof te wees wanneer jy pasta kook en dit dop te hou – dit neem nie lank nie!
Wenk: As jy die pasta dadelik by jou warm sous gaan voeg vir bediening, moenie jou pasta onder kraanwater afspoel nie – dit behou die stysel wat jou sous en pasta saam bind.
Liezl se resep
Ek moet eers hier intree en sê dat daar ‘n aansienlike verskil tussen Suid-Afrikanse pasta en Italiaanse pasta is. Ons fokus altyd op die sous en sit amper altyd ‘n vleis, wat ons sommer die ster van die dis maak, by. Die Italianers fokus op die pasta en voeg slegs ’n ligte sousie of pesto by.
Hier is my Botterskorsie-en-amandelpasta, dit is effens meer in Italianse styl en lekker lig. As jy dit meer Suid-Afrikaans wil maak, of te wel nou swaarder soos ons dit eet, kan jy hoender en room byvoeg.
Botterskorsie-en-amandelpasta
FOTO: Daniela Zondagh
FOTO: Daniela Zondagh
500g botterskorsie
40ml olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper
500g fettucini
100g amandels
50g pampoenpitte
50g botter
Genoeg vir 4
Verhit oond tot 200 °C. Plaas botterskorsie op ’n bakplaat, sprinkel olyfolie oor en geur met sout en baie swartpeper. Bak 20 minute tot sag. Kook pasta in ’n pot water op die stoof. Dreineer kookwater sodra pasta gaar is en spoel onder koue water af om kookproses te stop. Rooster die amandels en pampoenpitte in ’n pan todat jy die amandels kan ruik en dit liggies verbruin. Verhit ’n pan met botter en olyfolie. Meng pasta, botterskorsie, amandels en pampoenpitte goed saam in die pan. Sit dadelik voor.
Comments