FRANSE PLATTELANDSE BROOD
- The Rainbow Team
- Jul 29, 2014
- 2 min read
As julle twee nie lus voel om brood te bak nie, koop sommer ’n Franse broodjie.
Die beste van ’n varsgebakte brood is as jy ’n stuk van die brood afbreek en die korsie en krummels skiet oral heen, net soos ’n glas wat breek.
Enige vrese om brood te bak sal jy vinnig oorkom met hierdie resep.
Bestanddele:
15ml Suiker
25ml Sout
15ml Olyfolie
1 Pakkie kitsgis
1 500ml Koekmeel
750ml Water
125ml Ekstra koekmeel
Só maak mens:
Vroulief, meng die koekmeel, sout, suiker, olyfolie en kitsgis, behalwe die ekstra koekmeel, in ’n groot mengbak.
Manlief, neem die houtlepel en terwyl vroulief al die water by die meelmengsel gooi, meng jy verwoedelik totdat daar niks meer meel sigbaar is nie. As jou deeg te klam is, voeg van die ekstra meel by en meng nog.
Vroulief, bedek die mengbak met kleefplastiek en laat staan om te rys vir ten minste 30 minute of tot jy kan sien die deeg begin rys.
Manlief, strooi nou ’n bietjie meel op jou hande en deel die deeg in drie ewe groot stukke. Maak ’n bolletjie uit die deeg deur met jou handpalms deur die deeg te trek na ondertoe en beweeg die deeg in die rondte soos jy dit doen. Moenie worry as dit nie perfek is nie, hoe meer rustic hoe beter.
Plaas die brode op ’n bakplaat wat met meel bestrooi is en laat hulle staan om te rys vir 30-40 minute of tot dit amper dubbel in grootte is.
Vroulief, skakel die oond aan en voorverhit tot 220°C.
Terwyl die oond verhit, plaas ’n rooster of diep pan half gevul met water op die onderste rak van jou oond. (Dit gaan stoom maak terwyl die brood bak en seker maak dat jy ’n krakerige harde korsie het.
Plaas die bakplaat met jou mooi gerysde brode op die middelste rak van die oond. Maak die deur vinnig toe sodat die stoom nie ontsnap nie.
Bak vir 20-30 minute tot die brode goudbruin is. Laat effens afkoel, maar as jy enigsins soos ek is, gryp die botterbakkie en smeer onmiddellik ’n snytjie dik met botter terwyl dit nog heerlik warm is.
Comentarios