Gekookte skaapboud met kappersous
- The Rainbow Team
- Feb 3, 2015
- 1 min read

Weeg jou vleis en werk solank die kooktyd uit: As jy van mediumgaar vleis hou – daar moet nog ’n mooi pienk skynsel wees – werk jy op sowat 12 tot 15 minute per 500 g. Kry ’n kastrol gereed waarin kookwater die skaapboud heeltemal sal bedek. Gooi 10 ml sout per liter water in en bring dit tot kookpunt. Sit die vleis in die kookwater en begin die kooktyd aftel sodra die water weer begin kook. Die water moet heeltyd stadig prut. Nadat die vleis uit die kookwater gehaal is, moet dit 20 minute lank by kamertemperatuur staan voordat dit gesny word, sodat die vleissappe kan set.
30 ml botter
30 ml koekmeel
375 ml aftreksel
1 eiergeel
30 ml room
sout en swartpeper na smaak
15 – 30 ml suurlemoensap
30 ml kappertjiesaad
60 ml botter
Smelt botter in ’n kastrolletjie en meng met meel tot ’n gladde pasta. Gooi hierby kokende aftreksel en klits dit vinnig met ’n draadklitser. Meng eiergeel met room, sout, swartpeper en suurlemoensap in ’n mengbakkie. Gooi 125 ml van die warm vloeistof druppelgewys hierby terwyl jy aanhoudend klits. Gooi mengsel nou weer op sy beurt in ’n dun straaltjie terug in die kastrol, wat oor matige hitte is, terwyl jy vyf sekondes lank klits en kook. Haal dit van hitte af en proe vir geur. Roer net voordat jy dit voorsit die kappertjiesaad by die sous, en die 60 ml botter om dit te verryk.
Comentarios