SAKI SE TUISGEMAAKTE TAMATIESMOOR
- The Rainbow Team
- Feb 3, 2015
- 1 min read

5 groot, ryp tamaties
• 2 middelslag-uie
• 30 ml olyfolie
• 6 knoffelhuisies
• 4 takkies (so 5 cm elk) vars roosmaryn
• growwe sout na smaak
• 45 ml gladde heuning
“Kruis” tamaties (druk met ’n skerp messie ’n kruisie aan die onderkant). Sit tamaties in ’n kastrol en gooi ’n ketel kookwater oor. Glip skilletjies af en sny kroontjies uit. Sny tamaties in blokkies. Skil uie en sny in fyn blokkies. Gooi tamaties en uie in gietysterkastrol. Voeg olyfolie by. Kook teen medium-hitte vir sowat 1 uur. Druk knoffel met ’n breë vleismes plat, verwyder skilletjies en breek in growwe stukke. Gooi by tamaties in kastrol. Pluk roosmaryn, spoel af en gooi heel takkies by. Voeg growwe sout na smaak by. Kook vir nog ’n uur en proe of die smoor “gaar” en deurgekook is. Roer heuning in en laat dit deurkook. Laat prut vir nog so 15 minute. Proe weer of alles gaar genoeg is. Indien nie, laat nog 15 minute kook.
Wenke
Sout, growwe peper en heuning kan gewissel word na smaak.
Gebruik as pizzabasis, pastasous of in maalvleisgeregte. Ook lekker op ‘n roosterbroodjie of saam met ‘n gebakte eier.
Hierdie smoor vries baie lekker, so moenie dat die gaarmaaktyd jou afsit nie. Ek hou sommer altyd ‘n paar bakkies in die vrieskas vir daardie onbeplande ek-het-smoor-nodig-aande (dit werk vir byna alles!).
Bình luận