Springboknek-pot met kluitjies en ’n deegmannetjie
- The Rainbow Team
- Feb 5, 2015
- 2 min read

(4 – 6 porsies)
1,5 kg springboknek, in stukke gesny
koekmeel om die vleis te bedek
goeie skeut olyfolie
1 ui, grofgekap
2 preie, in dun skyfies gesny
3 knoffelhuisies, grofgekap
10 ml growwe sout
varsgemaalde swartpeper na smaak
1 vars roosmaryntakkie
250 ml goeie rooiwyn, warm
500 ml vleisaftreksel, warm (of genoeg om die vleis in die pot toe te maak)
2 wortels, in dun skyfies gesny
halwe botterskorsie, in stukke gesny
Bedek die vleis liggies met die meel en braai in jou swartpot (of swaar pot met styfpassende deksel) in die olyfolie tot bruin. Voeg die ui, preie en knoffel by en braai tot die ui deurskynend word. Voeg sout, swartpeper, roosmaryn, rooiwyn en aftreksel by, roer goed deur en sit die deksel op. Prut oor stadige hitte vir 2 ½ tot 3 ure tot die vleis sag is. Dit is baie belangrik dat die pot moet prut – dit is wat die “potjiekos-fluister” veroorsaak. As jy die pot te vinnig laat kook, sal die vleis taai word en soos leer smaak, so: stadige hitte! As die vleis sag is, pak jy die wortels en botterskorsie bo-op, sonder om te roer. Kook dan verder vir 20 minute. Nou maak jy die kluitjies en die deegmannetjie.
Kluitjies
10 ml bakpoeier
5 ml sout
500 g koekmeel
pecorino-kaas na smaak, gerasper
100 g botter
sowat 250 ml koue water
Sif die bakpoeier, sout en meel saam. Voeg die kaas by, en vryf dan die botter met jou vingerpunte in die mengsel in. Voeg die water geleidelik by tot jy ’n sagte, maar nie-klewerige deeg het. Breek klein stukkies deeg af, omtrent so groot soos die helfte van ’n eier, en sit dit in die pot, in die sous. Om die deegmannetjie te maak rol jy ’n stuk deeg uit, druk ’n mannetjie met ’n koekiedrukker uit, en sit dit bo-op alles in die pot. Sit die deksel terug vir nog 20 – 25 minute tot die kluitjies deurgaar is. Moenie in hierdie tyd loer nie, anders sal jou kluitjies misluk. Sit voor saam met ’n goeie glas rooiwyn.
Comentários