Gestoofde spesery-beesstert
- The Rainbow Team
- Feb 6, 2015
- 1 min read

4 porsies
250 ml (140 g) koekmeel
mengsel van baie kaneel, minder kardemom en ’n bietjie naeltjies, volgens smaak
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2 kg beesstertstukke
15 ml botter
30 ml olie
2 of 3 groot uie, gehalveer en in dun ringe gesny
1 of 2 selderystingels, baie fyn gekap
1 of 2 wortels, gerasper
2 blikkies donker bier, soos Guinness
1 bottel goeie gehoute chardonnay
hand vol vars pietersielie, grofgekap
fyngerasperde lemoenskil (opsioneel . . .maar die gereg gaan nie dieselfde smaak daarsonder nie)
Geur koekmeel met die speserye, sout en swartpeper en rol die beesstertstukke daarin. Verhit die botter en olie in ’n kastrol en soteer die uie, seldery en wortel tot sag. Haal uiemengsel uit die kastrol en hou eenkant. Braai in dieselfde kastrol (want al die heerlike geure kan mos nie verlore gaan nie) die beesstertstukke aan albei kante tot donkerbruin. Doen dit ’n paar op ’n slag sodat almal ewe bruin word. Sit al die vleis en die uiemengsel in die kastrol, voeg bier en wyn by en laat kook. Draai die hitte af, sit die deksel op en prut vir ’n paar uur totdat die vleis sag is en byna van die been afval (m.a.w. wanneer die kuiergaste se monde behoorlik water!). As dit lyk asof die vloeistof te min word in die pot, voeg beesvleis-aftreksel by. Sprinkel pietersielie en lemoenskil teen die einde bo-oor.
Om te drink
Shiraz of zinfandel. Min kelders maak zinfandel – probeer Blaauwklippen.
Comments