Griekse koekies
- The Rainbow Team
- Feb 6, 2015
- 1 min read

Jy kán nie vir gaste koffie gee sonder dié lekkerny nie! Dis baie koekies, maar heerlik. Bêre die origes in ʼn lugdigte houer.
Sowat 40 koekies
200 g gepelde amandels
450 g (490 ml) sagte botter
200 g (250 ml) suiker
3 eiergele
60 ml brandewyn (of water)
saad van 1 vanieljepeul
900 g (1 607 ml) koekmeel
10 ml bakpoeier
rooswater om bo-oor te sprinkel
versiersuiker
Verhit jou oond tot 190 °C. Plaas die amandels op ’n bakplaat en rooster vir sowat 8 minute. Kap hulle fyn in jou voedselverwerker. Klits die botter en suiker met ’n elektriese menger tot lig en romerig. Voeg die eiergele, brandewyn (of water) en vanieljesade by. Sif die meel en bakpoeier saam. Voeg dit by die bottermengsel. Voeg ook die amandels by. Meng goed. Keer die mengsel op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Knie tot ’n gladde deeg. (Dit sal dalk ’n bietjie droog lyk.) Vat sowat ’n eetlepel vol deeg, knie die stukkie effens en vorm dit in ’n ovaaltjie. Plaas op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Bak die koekies vir 20 minute. Haal uit die oond en besprinkel dadelik met ’n klein bietjie rooswater. Laat afkoel op ’n afkoelrak. Rol die koekies in versiersuiker.
Comentarios