Griekse melktert
- The Rainbow Team
- Feb 6, 2015
- 2 min read

Dié lekkerte is nie net in Suid-Afrika bekend nie. Hierdie Griekse weergawe smaak vorentoe.
Genoeg vir 6
400 ml melk
8 velle fillodeeg
200 g (220 ml) botter, gesmelt en tussen twee bakkies verdeel
3 eiers
2 eiergele
100 g (125 ml) suiker
75 g (120 ml) semolina
8 sade van 1 vanieljepeul of 5 ml vanieljegeursel
Verhit jou oond tot 190 °C. Gooi die melk in ’n kastrol en verhit tot net by kookpunt. Laat afkoel. Voer ’n oondbak van 20 x 30 cm met bakpapier uit. Sif ’n bietjie meel oor die papier. Plaas een vel fillodeeg in die oondbak. Die deeg moet reg rondom oor die rand van die bak hang. Gebruik nou een van die bakkies gesmelte botter (die ander bakkie hou jy vir die vulsel) en smeer die fillodeeg goed. Herhaal die proses met nog drie velle. Klits die eiers, eiergele en suiker tot lig en romerig. Voeg die semolina, vanielje en melk geleidelik by. Gooi die mengsel in ’n kastrol. Verhit terwyl jy aanmekaar roer totdat dit romerig en dikker word. Haal van die hitte af en voeg die tweede bakkie gesmelte botter by. Meng goed. Gooi die mengsel in die bak wat met die fillodeeg gevoer is. Vou die deeg wat oor die rand van die bak hang bo-oor die vulsel. Halveer die orige vier velle fillodeeg en plaas een halwe vel bo-op die vulsel. Smeer met gesmelte botter en herhaal met die orige sewe velle. Smeer goed bo-op met botter. Sny die tert in porsies met ’n baie skerp mes. Plaas in die warm oond. Draai die hitte ná 15 minute af na 160 °C. Bak verder vir 30 minute tot mooi goudbruin en bros. Kook intussen die stroop.
Stroop
300 g (375 ml) suiker
200 ml water
15 ml suurlemoensap
2 ml vanieljegeursel
Plaas al die bestanddele in ’n kastrol. Bring tot kookpunt terwyl jy elke nou en dan roer. Prut vir sowat 10 minute. Gooi die warm stroop oor die melktert wanneer dit uit die oond kom.
Onthou!
Moenie die tert toemaak nie, anders sal die deeg pap word.
Fillodeeg-wenk
Hierdie deeg is papierdun en kan vinnig uitdroog terwyl jy daarmee werk. Maak dit met ’n klam afdroogdoek toe.
Commentaires