Ontbeende wildsboud met kruievulsel en olyfsalsa
- The Rainbow Team
- Feb 7, 2015
- 2 min read

(8 – 10 porsies)
wildsboud
1,2 – 1,5 kg ontbeende wildsboud (ek gebruik meestal ‘n springbokboud)
250 ml – 300 ml ongegeurde jogurt
100 – 150 ml SF’s Rosemary & Balsamic Dressing – as jy dit nie in die hande kan kry, gebruik ‘n mengsel van balsemasyn en olyfolie
Smeer hele boud met jogurt en laat staan vir 5 – 6 uur by kamertemperatuur. Vee die jogurt af en gooi die helfte van die slaaisous in die marinadebak. Sit die boud in en gooi die res van die slaaisous oor. Laat staan die boud vir 6 uur by kamertemperatuur en marineer dan vir twee dae: hou dit in die somer in die warmste deel van die yskas, en in die winter kan jy dit een dag op ‘n koel plek hou en die laaste dag in die yskas sit. Draai die boud elke dag om. Hou marinade.
vulsel
40 ml olyfolie
750 ml gesnipperde spinasie
1 ui, skoongemaak en fyngesny
125 g wit sampioene, fyngesny
100 g maalvleis
10 ml fyn koljander
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
125 g strepiespek (streaky bacon), gesnipper en bros gebraai
100 g krummel-maaskaas
100 ml SF’s Mediterranean Contorni – as jy dit nie kan kry nie, gebruik ½ songedroogde tamaties en ½ swart olywe)
80 ml broodkrummels
50 ml vars origanum, gesnipper
6 – 8 heel knoffelhuisies
250 ml hoenderaftreksel (40 ml hoenderaftrekselpoeier gemeng met 250 ml kookwater)
250 ml rooiwyn
Verhit oond tot 160 °C. Verhit olyfolie in ‘n pan en braai spinasie en ui vir 2 – 3 minute. Haal spinasie en ui uit en braai die sampioene. Voeg maalvleis by en braai tot gaar. Voeg koljander en ander geurmiddels by. Meng spinasiemengsel met maalvleis en voeg die spek, maaskaas, Mediterranean Contorni, broodkrummels en origanum by. Haal vleis uit die marinade en vlek oop op ‘n houtbord. Gebruik ‘n skerp mes en maak 6 – 8 snye oor die oppervlak van die boud. Druk die knoffel in die snye in. Versprei die vulsel oor die oppervlak van die boud. Vou die boud toe en bind vas met ‘n tou. Sit vleis in ‘n oondvaste bak met ‘n deksel. Meng die hoenderaftreksel, wyn en marinade van vroeër en gooi oor die vleis. Rooster by 160°C vir 5 uur. Verwyder uit oond,sny in skywe en laat die skywe in die sous lê. Sit vir 15 minute terug in oond by 180°C en sit voor met olyfsalsa
olyfsalsa
100 g Kalamata-olywe, ontpit en in ringetjies gesny
100 g groen olywe, ontpit en in ringetjies gesny
100 g songedroogde tamaties, in klein stukkies gesny
80 ml kappertjiesaad, in helftes gesny
80 ml platblaarpietersielie, gekap
80 ml SF’s Rosemary & Balsamic Dressing – of gebruik ½ balsemasyn en ½ olyfolie
Meng alles en sit die salsa in klein bakkies voor saam met die wildsboud.
Comments