Kaas- en Wynparty
- Niël Stemmet
- Mar 4, 2015
- 1 min read

Hier is die sestigs was die volk aan’t party en die gier was ‘n kaas- en wynparty. Van die happieskos sien ons vandag nog, en as dit aangebied word is ek voor in die ry. Onthou jy groen, rooi en wit suuruitjies met cheddar, pruimedante gestop met dadels en toegedraai in spek en die warm knoffel-franse-brode.
Die gewildste wyn by so ‘n party was rose met sy rooswangblos en is aanbeveel by alle kase behalwe die met ‘n sterk geur. Kaapse rooiwyn met hul vrank smaak is saam met meer pikante kase aangebied , daar is witwyn ook bedien [ gewoonlik met aankoms ] en saam met die loopdrankie van port bloukaas en groenvye. Dit was die tyd voor die spietskops onder in die straat gewag het om die alkohol in die bloed te toets. Die land het geparty op groot skaal en kaas en wyn was die koning en koningin van die bal.
In die sestigs was daar reeds omtrent twintig kase beskikbaar en die is op die kaastafels uitgepak omring deur krulblaarpietersielie, peuselstokkies en gekleurde vlaggies wat die name van al die kase roep. Saam met die kase is grootborde [ platters ] met klein tamaties, selderystokkies, radyse, waterkers, suuruitjies en broodborde met gesnyde brode bedien. Die brode het gewissel van gesnyde wit- en bruinbrood tot lang franse brode [ wat jy met die hand gebreek het ] en heerlike tuisgebakte volkoringbrode. Hier en daar was bakkies beskuitjies geplaas en die lig was kerslig om ‘n romantiese atmosfeer te skep. Op die tafel was kleinbordjies, botter en bottermesse en ‘n kaleidoskoop van papierservette wat vrolik in waaiervorms gevou is .
Comments