Koffie-en-nougat-semifreddo
- Marrelize Ferreira
- Apr 14, 2015
- 1 min read
Hier is Marelize Ferreira van Garsfontein in Pretoria se wenresep vir die opdrag "vertel ons van jou beste resep met ’n koffiegeur".

Daar was baie inskrywings vir roomys en ander bevrore nageregte, maar dié semifreddo (sagte roomys) het ons omtrent ons proebakkies laat uitlek. Die tegniek wat Marelize gebruik, sorg vir ’n veerligte en fluweelgladde tekstuur.
■ 3 eiers
■ 2 eiergele
■ 180 ml strooisuiker
■ 100 ml espresso, afgekoel
■ 500 ml room
■ 225 g goeie nougat, fyn gesnipper
Klits die eiers, eiergele en suiker in ’n mengbak oor ’n pot water wat liggies prut, tot dit dik en lig van kleur is. Klits die afgekoelde espresso daarby in en laat oor ’n bak yswater afkoel, terwyl jy dit nou en dan liggies met ’n draadklitser klop.
Klits die room in ’n afsonderlike bak styf en vou dit versigtig by die eiermengsel in. Sprinkel die nougat oor en vou dit ook in. Skep die mengsel in ’n geskikte houer (of individuele bakkies) bedek en vries oornag. Lewer 8-10 porsies.
Comments