Koffie-looppoeding
- The Rainbow Team
- Apr 14, 2015
- 2 min read

(6 porsies)
Koffievulsel
75 g donker, koffiegegeurde sjokolade, grofgekap
80 ml sterk swart koffie
Maak die koffievulsel verkieslik al die vorige dag, want dit moet gevries word. Smelt die sjokolade en koffie saam in ’n bak oor ’n kastrol met warm water. Die water moenie kook nie en die bak moet ook nie aan die warm water raak nie. Roer so elke nou en dan tot die sjokolade gesmelt is. Haal die bak af en roer tot die mengsel mooi glad is. Spuit ’n ysbakkie met teenkleefmiddel en verdeel die mengsel in 6 van die ysblokkiebakkies. Plaas in die vrieskas tot gevries.
Witsjokoladespons
100 g witsjokolade
175 g ongesoute botter
150 g strooisuiker
3 eiers, geklits
250 g bruismeel, gesif
knippie sout
1 ml vanieljegeursel
60 ml melk
Verhit jou oond tot 180 °C. Smelt die witsjokolade nes die donkersjokolade oor warm water. Laat die gesmelte sjokolade effens afkoel. Room die botter en strooisuiker saam in ’n elektriese menger tot lig en romerig. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Vou die gesifte meel en sout versigtig in die bottermengsel. Vou nou die gesmelte witsjokolade, vanieljegeursel en melk in. Bedek 6 metaalbakkies se binnekante goed met botter en ’n bietjie meel. Skep die bakkies nou halfvol deegmengsel. Haal die gevriesde koffievulsel uit die vrieskas en plaas een blokkie in die middel van elke bakkie. Vul die bakkies met die res van die deeg. Hulle moenie heeltemal tot bo gevul word nie, want die mengsel rys en kan oorloop. Plaas die bakkies in ’n groot oondbak en vul met kookwater tot halfpad teen die kant van die bakkies op. Bak vir 30 – 35 minute. Keer uit en sit dadelik voor.
Comentarios