Eiervrug-en-maalvleispasta
- The Rainbow Team
- Apr 26, 2015
- 1 min read

Eiervrug is heerlik by maalvleis – gebruik dit ook in maalvleisgebak of -kerrie, en selfs in ’n potjie.
Genoeg vir 4-6 mense
Bereiding: 15 minute
Gaarmaaktyd: 45-50 minute
GROENTE
8 baba-eiervrugte, in kwarte gesny
2 uie, in kwarte gesny
45 ml (3 e) olyfolie
sout en vars gemaalde peper
VLEIS
2 knoffelhuisies, gekap
500 g maer beesmaalvleis
15 ml (1 e) olie
30 ml (2 e) sojasous
PASTA
500 g penne-pasta, gekook en gedreineer
ekstra olyfolie
parmesaanskaafsels vir afronding
Voorverhit die oond tot 180 °C.
GROENTE Versprei die eiervrugte en uie op ’n bakplaat. Besprinkel met die olie, sout en peper en oondbraai 45 minute tot sag en gaar.
VLEIS Braai die knoffel en maalvleis in die verhitte olie tot gaar. Voeg die sojasous by en geur met die sout en peper.
PASTA Meng die eiervrug, uie en maalvleismengsel deur die pasta. Roer nog ’n bietjie olyfolie deur en sit voor saam met die parmesaanskaafsels.
Comments