Lemmetjiemousse-tert
- Huisgenoot
- Apr 26, 2015
- 2 min read

Lewer 1 tert
Verkoel: 3½ uur
Bereiding: 30 min.
Gaarmaak: 35 min.
KORS
500 ml (2 k) wit meel
’n knippie sout
110 g koue botter, in blokkies gesny
10 ml (2 t) strooisuiker
1 eiergeel
30 ml (2 e) water
VULSEL
125 ml (½ k) water
125 ml (½ k) strooisuiker
skil van 2 lemmetjies
15 g gelatienpoeier
80 ml (⅓ k) vars lemmetjiesap
160 ml (⅔ k) strooisuiker
2 eiers, geskei
250 ml (1 k) room
5 ml (1 t) vanielje-ekstrak
BOLAAG
4 eierwitte
’n knippie kremetart
125 ml (½ k) strooisuiker
Kors: Plaas die meel en sout in ’n mengbak. Voeg die botter by en vryf met jou vingerpunte in die meel in tot die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg die suiker by.
Voeg die eiergeel en water by en meng met jou hande tot ’n ferm deeg vorm.
Draai die deeg in kleefplastiek toe en verkoel 30 minute in die yskas.
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 20 cm-veertertpan.
Rol die deeg uit tot effens groter as die bakpan. Voer die pan daarmee uit en laat die oortollige deeg oor die kante hang. Verplaas die pan na ’n bakplaat (moenie in hierdie stadium die deeg afsny nie).
Voer die deegdop met bakpapier uit en vul met droë bone of rys. Sny die oortollige deeg met ’n skerp mes af. Bak die deegdop sowat 15 minute of tot die deeg goudkleurig en droog is. Verwyder die papier en bone of rys en bak nog 5 minute.
Vulsel: Kook die water, 125 ml (½ k) strooisuiker en lemmetjieskil saam sowat 10 minute of tot effens stroperig. Verwyder van die hitte, strooi die gelatien oor die stroop en los 2 minute om sag te word. Roer die lemmetjiesap, 160 ml (⅔ k) strooisuiker en eiergele in. Klits sowat 5 minute tot die mengsel dik en skuimerig is.
Klits die room tot styf. Klits die eierwitte in ’n ander bak tot stywe punte vorm. Vou die room en eierwitte in die suikermengsel in. Skep die mengsel in die deegdop en verkoel 3 uur.
Bolaag: Bring ’n pot water tot prutpunt oor matig-lae hitte. Plaas die eierwitte in ’n bak oor die pot terwyl jy seker maak die onderkant raak nie aan die water nie. Klits die eierwitte met ’n elektriese klitser. Wanneer hulle begin skuimerig raak, voeg die kremetart by en voeg dan geleidelik die suiker by terwyl jy aanhou roer tot die mengsel dik en glansend is.
Smeer die meringue oor die gesette vulsel tot teen die tertrand. Sit net so voor of verbruin die meringue effens met ’n blaasvlam.
Comments