Sjokolade-grondboonbotter-kolwyntjies
- Hope Malau
- Apr 26, 2015
- 2 min read

Die foto sê alles. Jy sal dit moet maak om jou nuuskierigheid te bevredig.
Lewer 10 kolwyntjies
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 20 min.
Kolwyntjies
180 ml (¾ k) meel, gesif
60 ml (¼ k) kakaopoeier, gesif
125 ml (½ k) strooisuiker, gesif
10 ml (2 t) bakpoeier, gesif
5 ml (1 t) vanielje-ekstrak
80 g botter, gesmelt
2 eiers
125 ml (½ k) melk
Grondboonbotterroom
200 g botter, versag
250 ml (1 k) grondboonbotter
500 ml (2 k) versiersuiker, gesif
15 ml (1 e) vanielje-ekstrak
80 ml (⅓ k) room
Sjokoladeglasuur
125 ml (½ k) room
300 g donkersjokolade, fyn gekap
30 ml (2 e) heuning
10 ml (2 t) vanielje-ekstrak
Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n muffinpan met papierdoppies uit.
Kolwyntjies Meng al die gesifte droë bestanddele in ’n mengbak en maak ’n holte in die middel van die mengsel.
Meng die vanielje, botter, eiers en melk in ’n beker en voeg dit by die meelmengsel terwyl jy meng tot net gemeng.
Skep die beslag in die bereide muffindoppies en bak 20 min. of tot die kolwyntjies deurgebak is.
Grondboonbotterroom Klop die botter en grondboonbotter in ’n mengbak tot romerig en donsig. Voeg die versiersuiker by en hou aan roer tot goed gemeng.
Voeg die ekstrak en 60 ml (¼ k) room by. Meng tot klam. Klits teen hoë spoed tot die versiersel glad en donsig is. Voeg nog room by indien nodig.
Spuit die versiersel op die afgekoelde kolwyntjies.
Sjokoladeglasuur Verhit die room in ’n kastrolletjie oor matige hitte tot warm, maar nie tot kookpunt nie.
Plaas die sjokoladestukke in ’n glasbak. Giet die warm room oor die sjokolade en laat staan sowat 5 min. of tot die sjokolade gesmelt het. Klits die room en sjokolade tot glad en deeglik gemeng. Klits die heuning en ekstrak in. Laat sowat 10 min. afkoel.
Skep die glasuur op die versierde kolwyntjies en laat ’n bietjie langs die kante af drup.
Comments