Duwwelbredie en kambro-konfyt Kambro reg na háár smaak
- LEONÉ VAN NIEKERK
- May 6, 2015
- 2 min read
Duwwelbredie en kambro-konfyt. Kosse so reg uit die veld en as 'n mens hulle eers geproe het, sê die kenners, is daar niks lekkerder nie.
Duwweltjies word van die vroegste tye saam met 'n aartappeltjie, 'n uitjie en 'n vleisie in die pot gegooi vir 'n lekkerny soos min.

En kambro-konfyt, wat van die wortel van dié Namakwalandse plant gekook word, kan waatlemoen troef.
Sè 'n goue stukkie glanskonserf van 'n ''vrug'' wat min mense ken, is net die ding om suster Mattie Steyn van Linden se kennerstong te prikkel. Toe die bottel kambro-konfyt op haar tafel land, moes sy meer uitvind.

Want lekker kook is naas baba's vang 'n kuns waarvoor sy landwyd bekend is.
'n ''Lekkerproewer'', noem sy haarself. ''Fynproewers'' is opstairs en kan dikwels self nie lekker kos maak nie.
Vir konfyt het sy 'n kennersoog. Sy bottel steeds elke jaar sowat driehonderd bottels konfyt, piekels, atjar, agurkies en ingelegte vrugte.
Niks gaan verlore nie. Tot die uitgedrukte lemoenskille word met growwe sout ingevryf, in kookwater gelê en in stroop gekook totdat dit koper-oranje langs die rye en rye bottels in die oorvol spens pryk.
''Die heerlikste lemoenkonfyt wat jy kan kry,'' verseker sy van dié resep.
In die jare toe sy nog verpleeg het, moes die halfgekookte pot konfyt dikwels saam na die bevalling. Daar het sy 'n ma of suster aangekeer om verder te kook, met duidelike instruksies oor die kleur van die eindproduk.
Tina Coetzee van Riverside naby Klawer in Namakwaland is 'n ou kookvriendin met 'n slag vir konfyt. Sy het al pryse losgeslaan met haar sultana-en-spanspek-konfyt. Verlede week het sy 'n bottel van haar gesogte kambro-konfyt aangestuur, so saam met die bottel wat met die opname van Spies en Plessie op Lambertsbaai aan Jan Spies oorhandig is.
Suster Steyn het net daar en dan gebel om te hoor van dié vreemde vrug wat soos oranje kafferwaatlemoen lyk. Dit smaak ook byna soos waatlemoen, maar die tekstuur is meer veselrig en op die agtertong proe jy dit is iets wat jy nie ken nie.
Die kambro is 'n Namakwalandse bolplant met 'n takkie bogronds wat soos 'n peperboompie lyk. Die bol lyk byna soos 'n patat met 'n losserige skil.
Nadat die melkerige bol afgeskil is, word dit in stukke gesny en geprik soos 'n waatlemoen, vertel suster Steyn. Dán word dit oornag in kalkwater gelê. Die volgende oggend word dit goed gewas en in 'n pond-op-pond-stoop gekook. 'n Skeutjie suurlemoensap kan bygevoeg word. Sy sou 'n bietjie gemmer byvoeg vir smaak, sê suster Steyn.
Sy glo in gemmer. Die gemmerpons waarmee sy haar kroos se verkoues en griep besweer het, werk enige dag beter as nuwerwetse medisyne. 'n Mens trek 'n groot soetlemoen wat in klein stukkies gesny is met 'n teelepel fyn gemmer en 2 tot 3 eetlepels suiker op kookwater.
Dié pons hou jy langs die bed om deurentyd aan te drink. Die gemmer en die ''petrol'' in die lemoenskil - die olierige sproei wanneer die skil geknak word - maak korte mette met enige kiem, glo sy.
Vir elke skeet en geleentheid het sy 'n resep wat wérk. Dis net piesangskille wat haar onderkry.
'' 'n Mens móét iets kan maak met dié pragtige geel skil. Ek kon nog net nie uitwerk wat nie.''
Comentários