Gebakte skaapkop
- Arina du Plessis
- May 6, 2015
- 1 min read

Lelik, maar lekker. Daar is mense wat dol is op skaapkop en dan is daar diegene wat nie hul mond daaraan sal sit nie.
Maar diegene wat weet, sê die kop is die lekkerste deel van die skaap!
‘Voor jy die skaapkop bak, spoel eers sy bek uit. Gooi water van agter af deur die keelafsnyplek of sper die bek effens oop en spoel uit – soms is daar nog ’n bietjie gras tussen die kake. Só het my skoonma my geleer!’ – Hetta van der Merwe
■ 1 heel, skoon skaapkop per persoon, goed skoongemaak
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ Water
Voorverhit die oond tot 180°C. Geur die skaapkop baie goed – bo en onder – met sout en peper. Sit dit in ’n kasserolbak met ’n digpassende deksel. Voeg ’n klein bietjie water by en bedek dig. Bak vir 1-2 uur.
Toets of die kop sag is deur met ’n vurk in die vleis te steek. Sodra dit sag is – net sag, nie papsag nie – verwyder die deksel en bak vir ’n verdere 3 uur of langer, tot bros. Sit warm voor. Lewer 1 porsie.
Comentarios