Surings
- Jacques Botha
- May 6, 2015
- 2 min read


Vrolik, verleidelik en verniet
Wintertyd is suringtyd en die polletjies met vrolike geel blommetjies kan oral langs die paaie en in my tuin gesien word. Surings is ryk aan vitamiene C en daarom het die skeurbuikgeteisterde bemanningslede wat die Kaap van Goedehoop aangedoen het gou geleer om die voedsame veldkos te versamel en te gebruik in geregte soos bredies, sop en verfrissende suiweldrankie.
In ou tante Alie Hewitt se resepteboekie is ‘n interessante gestoofde visreseppie opgeteken waar sy suring in ’n ekstrak stowe vir ekstra geur. Hierdie suring-gegeurde ekstrak gebruik sy om die vis stadig met botter, ansjovis, ’n blaartjie foelie en suurlemoenskil in te stowe. Sy verdik uiteindelik die sous met verbruinde krummels. Ek het die resep getoets en klein stukkies ansjovis gebruik wat dit ‘n lieflike smaakprofiel gegee het, maar ek het nie daarvan gehou om die sous met krummels te verdik nie. Ek verkies om liewer eiergeel of room te gebruik.
Maar tog voel ek dat suring, soos van ouds, meer aansien in ons resepte behoort te kry – dit is natuurlik, gesond en boonop vrylik beskikbaar in ons omgewing. Dit word tradisioneel in waterblommetjiebredie gebruik maar dink net aan al die ander moontlikhede waar mens byvoorbeeld suring in plaas van suurlemoen kan gebruik.
Nog ‘n interessante gebruik vir suring was om dit as ‘n pap of drankie te geniet. Daarvoor is melk, dikmelk of karringmelk gebruik.
‘n Namakwalandse resep lui as volg:
“Suringmelk: Was die surings, breek die blommetjies af en kook in ’n bietjie water tot dit sag is. Gooi al die water deur ‘n sif af en los om heeltemal droog te drup. Druk die surings fyn en meng 1 koppie suringpuree met 750ml koue melk en klits goed met ‘n vurk. Gooi weer deur ‘n growwe sif. Die suringmelk is ‘n heerlike verfrissende drank en smaak byna soos karringmelk.”
Bron: HEWITT, A.G. Cape Cookery, Cape Town 1890
Commenti