Jafels met volstruismaalvleis
- Arina du Plessis
- May 15, 2015
- 1 min read

Vir ekstra lekkerte, sit ’n sny kaas op die brood voor jy die maalvleis bo-op skep en toebroodjies maak.
Onthou ook dat die maalvleisvulsel goed vries. So dis nuttig om die resep dubbeld te maak en dan net te ontdooi as jy jaffels of vetkoek wil vul.
■ 30 ml olie
■ 1 ui, gekap
■ 2 knoffelhuisies, gekap
■ 10 ml kerriepoeier
■ 5 ml elk koljander en komyn
■ 650 g gemaalde volstruisvleis
■ 100 ml vrugteblatjang
■ 60-100 ml water
■ 15 ml tamatiepasta
■ Sout en peper na smaak
■ 250 ml bevrore ertjies
■ 60 ml blatjang
■ 1 gesnyde witbrood
■ Sagte botter, vir smeer
Vir die kerriemaalvleis: Verhit die olie en braai die ui en knoffel daarin tot gaar. Voeg die kerriepoeier, koljander en komyn by en braai vir 1 minuut. Voeg die maalvleis by en braai tot goudbruin. Voeg die blatjang, water en tamatiepasta by en geur met sout en peper na smaak.
Verhit tot kookpunt. Prut vir ongeveer 7 minute. Voeg die ertjies en blatjang by en prut vir nóg 3 tot 5 minute tot geurig en goed afgekook. Laat die maalvleis afkoel tot kamertemperatuur en verkoel dan verder tot benodig.
Vir jaffels: Smeer die brood en draai die snye om sodat die gesmeerde kante onder lê. Skep ’n lepelvol maalvleis in die middel van elke tweede sny brood. Bedek met die ander snye brood en knyp toe in ’n jaffelyster sodat die gesmeerde kante van die brood teen die yster is. Braai die jaffels op ’n gasplaat of oor die kole, tot goudbruin en bros. Lewer 12 jaffels.
Comments