KERRIE-GROENBOONTJIEBREDIE MET NEUTE
- Huiskok
- May 16, 2015
- 2 min read

Beide snybone en aartappels was in Van Riebeeck se dae aangeplant; speserye was beskikbaar, en dis waarop ek my groenbonebredie wiks met kerrie. Dit is nie modern nie, maar eerder outyds – eeue der eeue oud. Eet dit met sousbone of kerriebone vir daardie heerlike soet-suur smaak waarvoor ons so lief is.
1 kg lam-stowevleis (met been aan)
30 ml ongesoute botter of sonneblomolie
6 gekneusde kardomom-peule
10 ml gestampte geskroeide koljandersade
15 ml matige kerriepoeier
5 ml borrie
3 knoffelhuisies, fyngedruk met 5 ml sout
20 ml fyngerasperde vars gemmer
1-2 rooi of groen brandrissies, fyngesny (om hitte te temper, haal pitte en die membrane uit – die hitte is in die wit velletjies eerder as die pitte!)
Sout en peper
½ koppie water of meer soos nodig
900 g groenbone, punte afgesny en die res gekerf
2 vars lourierblare
2-3 groot aartappels, geskil en in blokkies opgesny (soos Peter dit beskryf: ‘Oorlangs gehalveer en elke helfte weer oorlangs gehalveer en alles dan in die breedte een keer deurgesny’).
Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
Opdiening: Gestampte neute, soos amandel en groen amandel (pistasieneute) wat in die vroegste jare reeds aan die Kaap aangeplant was, of gesoute kasjoeneute wat baie lekker saam met kerriesmake is.
Metode:
Braai die vleis in sarsies bruin in die botter. (Gooi van die oortollige vet af).
Gooi die uie, borrie, kardomom en kerrie by en braai tot geurig en uie begin verbruin.
Voeg knoffel, gemmer en brandrissie by en verbruin liggies.
Voeg nou ½ koppie water by en roer goed deur met ‘n houtlepel, veral om die bruin stukkies op die bodem los te krap. Kook 40 minute.
Voeg helfte van die groenbone, aartappel en lourierblare bly, stowe baie stadig sowat 40 minute, voeg die res van die groenbone by, kyk of nog water nodig is en stowe verder tot sag.
Voeg suurlemoensap en skil*by, geur met sout en peper en roer deur.
Strooi die neute oor.
*Vir ietsie anders, roer blokkies ingelegde suurlemoen (‘preserved lemon’) deur die bredie of sprinkle bo-oor, geleen by die tagines van Noord-Afrika.
Bedien met warm sousboontjies, of selfs ‘n skeppie kerrieboontjies bo-op vir die geliefde soet-suur smaak. Om die toneel verder in te kleur, bedien met klein bakkies tamatie-en-uie sambal, komkommerslaai of beetslaai.
Stysel: gestoomde basmatirys, stampkoring of bruinrys. Of rys met lensies gemeng 2/3 rys en 1/3 lensies). Stampkoring sal ook lekker wees.
Wenk: Neutmuskaat; wonderpeper, fyn naeltjies, fyn gemmer en pypkaneel kan ook ingespan word, soos in Peter Veldsman se boek ‘Kos van die Eeu. Vir kruie: droë bonekruid of oreganum of marjolein. Surings vir surigheid.
Comments