SKAAPBREDIE MET GEBRAAIDE PIESANG
- Huisgenoot
- May 17, 2015
- 1 min read

EENPOT-GEREGTE is ware winterkos,
maak nie saak of jy dit ure lank op die
stoof laat prut of alles sommer in ’n
bak skep en in die oond druk nie.
Proe net hoe lekker pas gebraaide piesang en
lemoensap by skaapribbetjie. Francis Fortuin
van Swellendam het hierdie resep gestuur.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 minute
Gaarmaaktyd: sowat 1 uur
30 ml (2 e) olie
2 uie, in skywe gesny
1 knoffelhuisie, gekneus
1 klein soetrissie, ontpit en in kwarte gesny
2 brandrissies, fyn gekap (opsioneel)
2 wortels, in lang, dun repe gesny
1 raap, in blokkies gesny
500 g skaaprib, in kleiner stukkies gesny
5 ml (1 t) fyn koljander
sout en vars gemaalde swartpeper
sap en skil van 1 vars lemoen
1 blik (410 g) gekapte tamaties
500 ml (2 k) gaar, droë bone (enige soort)
30 ml (2 e) botter
3 piesangs, in skywe gesny
Verhit die helfte van die olie en braai die uie, knoffel, soetrissie, brandrissies, wortels en raap sowat 5 minute oor hoë hitte.
Skep die groente uit en verhit die res van die olie.
Braai die skaapribbetjies tot goudbruin, geur met koljander, sout en peper en voeg die lemoensap en -skil by.
Bedek, verlaag die hitte en laat stowe sowat 40-60 minute of tot die vleis sag is. Roer die tamaties en gaar bone by die vleis, meng goed en verhit tot alles deurwarm is.
Verhit die botter in ’n pan en braai die piesangskywe daarin tot goudbruin.
Skep net voor opdiening bo-op die vleis.
Comentários