Soet murgpampoen-en-avokadobrood
- ALETTA LINTVELT
- May 17, 2015
- 2 min read

ALETTA LINTVELT
Nog ’n teebrood in dieselfde styl as ’n piesangbrood is Amerikaanse murgpampoentjiebrood – of soos hulle dit noem, zucchini bread. Hulle het om die waarheid te sê ’n spesiale dag in die VSA om dié broodjie te vier.
Toe ek die eerste keer hiervan lees, het ek gedink dit is ’n soort soutige gesondheidsbrood is. Maar dis toe glad nie die geval nie – dit is soet en klam en jy proe nie eens die murgpampoen nie.
Ek het avokado by myne gevoeg om dit ekstra ryk en vogtig te maak (maar jy kan die avokado bloot met ¼koppie elk olyfolie en jogurt vervang). Die lemoenskil gee die brood ’n lekker sitrusgeur. Dit is baie lekker met roomkaas en ’n koppie rooibostee.
Maak 2 broodjies
Voorbereityd 20 minute
Gaarmaaktyd 1 uur
Jy benodig
3 eiers
¼ koppie Bulgaarse jogurt
¼ koppie olyf- of avokado-olie
1 ¾ koppie ligbruinsuiker
½ koppie fyngedrukte avokado
2 koppies grof gerasperde murgpampoentjies
2 teelepels roosmaryn, gekap
1 lemoen se gerasperde skil
3 koppies witmeel
½ teelepel bakpoeier
1 teelepel koeksoda
1 teelepel sout
1 koppie dennepitte (opsioneel)
Só maak jy
Voorverhit die oond tot 170 °C. Smeer 2 klein broodpanne van 22 cm x 12 cm.
Meng die eiers, jogurt, olie, suiker en avokado goed saam. Roer die murgpampoen, roosmaryn en lemoenskil by. Meng die meel, bakpoeier, koeksoda, sout en die helfte van die dennepitte in ’n aparte bak
Meng die nat en droë bestanddele saam, verdeel dit tussen die broodpanne en maak die bokante met ’n lepel gelyk. Sprinkel die res van die neute oor. Bak vir 1 uur of totdat ’n toetspen skoon uitkom en die bokant goudbruin is. Laat die brood 10 minute in die pan afkoel voor jy dit uitkeer. Laat dit dan heeltemal afkoel voor jy dit sny. Bedien met roomkaas.
Comments