Vinnige sout croissants
- The Rainbow Team
- May 17, 2015
- 1 min read

Maak: 16
Bereidingstyd: 30 minute
Baktyd: 20 minute
Oondtemperatuur: 200 ̊C
• 750 ml (410 g) koekmeel
• 25 ml bakpoeier
• 50 ml (45 g) botter, in blokkies gesny
• 400 ml gerasperde cheddar
• 125 ml gekrummelde feta
• 6 snye salami, gekap (opsioneel)
• 15 ml fyngeknipte grasuie
• 1 groot eier, geklits
• 180 ml karringmelk
• 1 eier, liggies geklits, om oor te verf
1 Sif die meel, bakpoeier en ’n knypie sout saam in ’n groot bak. Vryf die botter in en roer dan die kaas, salami (as jy dit gebruik) en grasuie by.
2 Meng die eier, karringmelk en 60 ml water in ’n aparte bak saam. Roer dit by die droë bestanddele. Verdeel die deeg in twee. Rol elkeen in ’n sirkel uit (sowat 26 cm in deursnee) op ’n oppervlak wat met meel bestrooi is. Sny dit in agt skywe (soos pizza-skywe). Rol elke skyf op. Begin by die geronde kant en eindig by die punt. Vou die hoeke in om ’n halfmaan te vorm.
3 Pak die croissants op ’n gesmeerde bakplaat en verf dit met die eier. Bak dit in die warm oond vir 20 minute of tot goudbruin.
Comentários