Aarbei-pavlova ‘met nog ’n borsspeld en ’n ring’
- Errieda du Toit
- May 21, 2015
- 3 min read

Errieda du Toit, RSG se Huiskok, vertel die nagereg op haar Kerstafel is vanjaar haar “massiewe, XXL-aarbei-pavlova met tuisgemaakte soutkaramel en vanieljeroomys”.
“Ek bly weg van frambose en bosbessies, wat deksels duur is, al is hulle nou in seisoen. Daarvoor staan pitlose robynpienk druiwekorrels in.
“Aarbeie is ook meer ekonomies as die luukse bessies en kersies, maar voel en lyk altyd feestelik.
“Ek bak die pavlova die vorige aand, wat my hande losmaak vir die Kersoggend se laaste tooiery en tafel dek. Dan hoef ons net die aarbeie op te sit, die room te klits en toffiesous oor te gooi wanneer dit poedingtyd is.”
Jy benodig:
Vir die pavlova
8 eierwitte
½ suurlemoen
stewige knippie sout
440 g strooisuiker
10 ml witwynasyn
10 ml vanieljegeursel
10 ml mielieblom
300 g aarbeie, opgesny en met strooisuiker bestrooi; en pitlose druiwe (as jy jou eie brame of moerbeie kweek, dit ook)
500 ml slagroom
Pienk peperkorrels, opsioneel (vir oorstrooi)
Vir die souttoffiesous:
125 ml koue water
330 g strooisuiker
250 ml vars klitsroom (nie laevet nie)
goeie seesout
So maak ’n mens:
1. Verhit oond tot 200 °C. Berei bakplaat voor: Plaas ’n vel bakpapier op die bakplaat (die gemerkte kant moet na onder wys).
2. Maak nou die meringue: Vryf die binnekant van die mengbak waarin jy die eierwitte gaan styf klits met ’n halwe suurlemoen. Dit help om enige vetterigheid wat dalk aan die bak vaskleef, te verwyder. Skei die eiers.
3. Plaas die eierwitte en sout in die mengbak en klits totdat dit stywe punte vorm. Voeg die helfte van die suiker bietjie vir bietjie by terwyl jy klits.
4. Meng die asyn, vanielje en mielieblom in ’n aparte bakkie. Vou dit saam met die res van die suiker by die meringue tot goed gemeng.
5. Skep die meringue op die voorbereide bakpapier. Ek maak ’n langwerpige meringue eerder as ’n ronde een, wat vir my te veel na die Queen se hoede lyk. ’n Wenk is om eers ’n basis te vorm wat taamlik gelyk is en dan die res van die meringue bo-op te stapel om lekker hoogte te kry.
6. Plaas in die onderste derde van die oond en verlaag die hitte tot 150 °C. Bak die meringue vir 40 minute en draai die oond weer laer na 120 °C vir ’n verdere 45 minute. Draai die oond af totdat die pavlova afgekoel is. Berei die vrugte voor terwyl die meringue bak.
7. Maak nou die toffiesous: Sit suiker en water in ’n medium-kastrol. Laat stadig warm word totdat die suiker gesmelt het. Verhoog die hitte tot medium totdat dit opkook. Nou en dan trek jy net so ’n haal deur die mengsel sonder om te roer. Laat dit sowat 15-20 minute kook tot amberbruin. Te bruin, en dit raak bitter.
8. Hou ’n kwassie byderhand. Doop dit in water en verf die wande van die kastrol om te keer dat die suiker kristalliseer. Sodra die karamel die regte skakering het, haal van die plaat af en klits die room in. Wees versigtig, want die gesmelte suiker kan jou lelik seermaak. Moet beslis nie die rand met jou vinger aflek nie!
9. Laat afkoel, voeg sout na smaak by en sit in ’n flessie tot benodig.
10. Om voor te sit: Plaas die pavlova versigtig op jou mooiste, deftigste skinkbord (ek gebruik die silwer-skinkbord wat ’n erfstuk is). Klits die room tot stywe punte en smeer oor die pavlova, bedrup met die toffiesous en skep die vrugte bo-op.
En – soos my ma wat glo jy sit nog ’n borsspeld aan en nog ’n ring – sprinkel ek pienk peperkorrels oor en sif dan ’n bietjie versiersuiker oor.
Ek sit dit voor met vanieljeroomys – dit is mos Kersfees. Die orige toffiesous kan tot ’n week in die yskas hou, maar dit sal lank voor daardie tyd reeds opgeëet wees.
Comments