Drie soorte gevulde eiers as aptytwekker
- Smulpaap
- May 21, 2015
- 2 min read

n Gevulde eier hoef jy nie net met tamatiesous en mayonnaise soos in die 1970’s te maak nie. Dié drie happies is die perfekte manier om ’n feesmaal af te skop. Roep die kleinspan se hulp in om die eiers af te dop.
Maak 36 gevulde eier-helftes.
Jy het nodig:
18 hardgekookte eiers, afgedop
Vir die roomkaas-eiers:
40 ml mayonnaise
½ t witwynasyn
1 t Dijon-mosterd
20 ml roomkaas
sout, na smaak
grasuie, vir garnering
Vir die pesto-eiers:
3 e parmesaankaas, fyngerasper
2 e ongegeurde laevetjogurt
1 t vars basielkruidblare, gekap
½ t knoffelpoeier
(Wenk: Jy kan ook gekoopte pesto gebruik om tyd te bespaar.)
Vir die geroosterderooisoetrissie-eiers:
½ rooisoetrissie
3 e mayonnaise
1 t Dijon-mosterd
¼ t paprika, plus ekstra vir garnering
sout en witpeper, na smaak
Só maak ’n mens:
1. Jy gaan ses eiers vir elke geur gebruik. Sny die eerste ses eiers middeldeur en skep die gele versigtig uit. Plaas die gele in ’n mengbak en die wit-gedeeltes op ’n mooi bord.
2. Vir die roomkaas-eiers: Druk die gele met ’n vurk fyn. Voeg die mayonnaise, asyn, mosterd, roomkaas en sout na smaak by die gele en hou aan meng met ’n vurk tot glad. Skep in ’n versiersak met ’n groot ster-punt en spuit die vulsel terug in die eierwitte. Garneer met stukkies grasuie.
3. Vir die pesto-eiers: Volg stap 1 hierbo. Druk die gele met ’n vurk fyn. Voeg die res van die bestanddele by en meng tot glad. Skep die vulsel versigtig terug in die eierwitte en garneer met vars basielkruid.
Wenk: As jy gekoopte pesto gebruik, voeg 1 groot eetlepel by die eiergele plus ½ t witwynasyn. Proe en geur na smaak met sout en peper.
4. Vir die rooisoetrissie-eiers: Volg stap 1 hierbo. Plaas die halwe soetrissie onder ’n warm rooster totdat die skil begin brand. Plaas in ’n plastieksak vir 10 minute en trek dan die skil af. Kap die soetrissie baie fyn en voeg dit saam met die res van die bestanddele by die eiergele. Meng met ’n vurk tot glad en skep dit in die eierwitte. Garneer met paprika.
5. Sit die eiers dadelik voor, of bêre vir tot ’n dag in die yskas.
– Karla Janse van Vuuren
Comments