Glutenvrye seesout-en-sjokolade-splinterkoekies
- Karla Janse van Vuuren
- May 21, 2015
- 2 min read

Daar is iets spesiaals aan die kombinasie van sjokolade en seesout. Omdat glutenvrye meel gebruik word, kan mense met wie gluten nie akkordeer nie, dit eet. Ek het Nature’s Choice- glutenvrye koekmeel gebruik (R25,95 vir 500g) wat by gesondheidswinkels en apteke beskikbaar is, maar ook by al hoe meer supermarkte te kry is. Die meel is ’n bietjie duur, maar dit is baie goedkoper om glutenvrye meel te koop en self te bak as om glutenvrye koekies by ’n gesondheidswinkel te gaan koop.
Maak sowat 20 groot koekies.
Jy het nodig:
115g botter, by kamertemperatuur
½k bruinsuiker
¼k witsuiker
1t vanieljegeursel
1¾ k glutenvrye meel
½t goeiegehalte-seesoutvlokkies, plus
ekstra om op te sprinkel
¼t koeksoda
1 eier
1k glutenvrye sjokoladesplinters (die meeste sjokoladesplinters, soos dié van Stafford’s, wat ek gebruik het, is glutenvry)
So maak ’n mens:
1. Plaas die botter, die bruin- en witsuiker en die vanieljegeursel in ’n mengbak en klits met ’n elektriese klitser tot lig en donsig.
2. Klits die eier by tot deeglik gemeng.
3. Voeg die meel, seesout en koeksoda by en klits tot gemeng.
4. Roer die sjokoladesplinters met ’n metaallepel by.
5. Skep die deeg op ’n vel bakpapier (of kleefplastiek) uit en vorm in ’n lang wors van sowat 5cm breed. Draai dit toe in die bakpapier en plaas dit vir ’n uur in die yskas.
6. Voorverhit die oond tot 180°C. Sny die verkoelde deegwors in 1cm-skywe. Plaas die skywe op ’n bakplaat wat met kleefwerende bakpapier uitgevoer is. Sprinkel ’n bietjie seesout oor elke koekie.
7. Bak 11-12 minute totdat die kante mooi goudbruin is. Laat 5 minute op die bakplaat afkoel en verskuif dan na ’n draadrak om heeltemal af te koel. Bêre in ’n lugdigte houer.
Wenk: Jy kan die deeg ook vries. Laat dit net ’n bietjie by kamertemperatuur ontdooi sodat jy dit in skywe kan sny.
Commentaires