Grondboontjiekoekies sonder meel
- Karla Janse van Vuuren
- May 21, 2015
- 2 min read

Koekies gemaak van kekerertjies? Glo dit! Hierdie ongelooflike koekies is ideaal vir grondboontjiebotter-liefhebbers. Boonop bevat dit geen meel nie, wat dit geskik maak vir mense met wie gluten nie akkordeer nie. Dit is ook suikervry en geskik vir veganiste (dit bevat geen melk of eiers nie).
Die koekies is propvol proteïen en
vesel en word gemaak met bestanddele wat reeds in jou koskas kan wees. My toetspaneel (vriende, kollegas en familielede) het dié koekies verorber en dit het ook die goedkeuring weggedra van ’n vriendin met wie gluten nie akkordeer nie. Een koekie is boonop lekker vullend.
Maak sowat 3½ dosyn koekies.
Jy het nodig:
½k heuning
4e vanieljegeursel
2t bakpoeier
2 blikke (400g elk) kekerertjies, gedreineer en deeglik afgespoel
1k natuurlike growwe grondboontjiebotter (kies dié wat geen ekstra sout of suiker bevat nie)
So maak ’n mens:
1. Voorverhit die oond tot 190°C.
2. Plaas al die bestanddele behalwe die grondboontjiebotter in ’n voedselverwerker en verwerk sowat 2 minute lank tot glad. Skraap die kante van die bak skoon sodat die mengsel egalig glad word.
3. Skep die mengsel in ’n groot mengbak uit en roer die grondboontjiebotter by. Meng deeglik. Die mengsel sal baie dik en taai wees.
4. Werk met nat hande en vorm balletjies omtrent so groot soos ’n tafeltennisballetjie. Pak op ’n bakplaat wat met kleefwerende bakpapier uitgevoer is. Druk oorkruispatrone met ’n vurk op elke koekie (maak die vurk ook nat sodat die deeg nie daaraan vasklou nie).
5. Bak 12 tot 14 minute. Die koekies sal steeds baie sag wees (en dit behou die sagte tekstuur selfs nadat dit afgekoel het). Laat sowat 5 tot 10 minute afkoel op die bakplaat en plaas dit dan op ’n draadrak. Bêre in ’n lugdigte houer.
Comments