Kaaskoek-konfyt-koekies
- Karla Janse van Vuuren
- May 21, 2015
- 1 min read

Met net vyf bestanddele kan ’n mens hierdie heerlike koekies, wat herinner aan kaaskoek, maak. Gebruik enige konfyt tot jou beskikking. Ek het ryp vyekonfyt, wat ek reeds in my yskas gehad het, gebruik. Ek het grootmaat-bestanddele gekoop en die hoeveelhede wat ek gebruik het vir die resep het sowat R30 gekos.
Maak sowat 3½ dosyn.
Jy het nodig:
115 g (sowat ’n halwe houertjie) sagte roomkaas
8 e botter, by kamertemperatuur
½ k plus 2 e suiker
1 k plus 2 e meel
konfyt van jou keuse (probeer vye, framboos of aarbei)
Só maak ’n mens
1. Klits die roomkaas en botter met ’n elektriese klitser tot lig en donsig.
2. Voeg die suiker by en klits goed.
3. Klits die meel bietjies-bietjies by – klits op lae spoed tot net gemeng.
4. Bedek die bak met kleefplastiek en plaas in die yskas vir ’n minimum van 45 minute, verkieslik 2 uur. Voorverhit die oond tot 180 °C so 10 minute voordat jy wil begin bak.
5. Voer ’n bakplaat uit met kleefwerende bakpapier. Skep teelepelsvol van die deeg uit en rol in balletjies. Pak dit op die voorbereide bakplaat. Druk jou duim liggies in die middel van elke koekie en skep ’n bietjie konfyt in die holte.
6. Bak 12-13 minute of tot net goudbruin om die kante. Die koekies sal steeds baie sag wees wanneer jy dit uit die oond haal – dit is wat jy wil hê. Laat so 5 minute op die bakplaat afkoel en verwyder dan na ’n draadrak om heeltemal af te koel.
Comentários