Kersfees-cakepops
- Seline en Leandri van der Wat
- May 21, 2015
- 2 min read

Maak sowat 15 cakepops, afhangende van die grootte van die koek wat jy gebruik.
Jy benodig:
1 vrugtekoek van sowat 1 kg
200 g neute, gekap (opsioneel)
Vir die karamel:
250 ml strooisuiker
125 ml room
½ teelepel fyn gemmer
’n knypie sout
20 ml brandewyn
Versierings:
suiglekker-stokkies
ander versierings, soos gekleurde strooisels en lint
100 g fondant-versiersel
jel-voedselkleursel, soos benodig
20 g witsjokolade, gesmelt (verwys na wenk 2 in vandag se rubriek)
Só maak ’n mens:
1. Maak karamel deur die strooisuiker stadig oor baie lae hitte in ’n plat pan te smelt. Moet dit glad nie roer voordat al die suiker gesmelt het nie.
2. Sodra die suiker gesmelt is, verhoog die hitte tot matig en klits die room stadig by.
3. Voeg die knypie sout en gemmer by en roer goed. Verwyder van die hitte en roer die brandewyn by. Laat die karamel heeltemal in die yskas afkoel voordat jy dit gebruik.
4. Gebruik ’n vurk (of sommer jou vingers) om die vrugtekoek te krummel. Plaas in ’n mengbak en voeg ’n eetlepel van die karamel op ’n keer by en roer totdat die mengsel net-net aanmekaar begin kleef en jy maklik balletjies kan rol.
5. Vorm die koekmengsel in balletjies en plaas dan vir 15 minute in die yskas.
6. Haal die koekballetjies uit die yskas en rol dit weer versigtig om seker te maak dit is mooi rond.
7. Druk die stokkies in die balletjies (volg wenk 2 in die rubriek). Plaas terug in die yskas vir 15-30 minute.
8. Haal uit die yskas en versier volgens jou smaak met fondantversiersel, sjokolade, kersies en selfs lint.
Foto: Seline van der Wat
Comments