Lamsburgers
- Pete Goffe-Wood
- May 21, 2015
- 2 min read

Dié resep gee aan die gewone hamburger ’n heerlike Marokkaanse kinkel en dit is perfek om aan te smul wanneer almal regskuif vir die groot wedstryd, en ook as deel van ’n piekniek of sommer net vir ’n luilekker Sondagmiddagete.
Genoeg vir 4.
Jy het nodig:
1 rooiui
2 knoffelhuisies
canola-olie
800 g lamsmaalvleis
1 e komyn
2 t gerookte paprika
die sap van 1 suurlemoen
2 e Tabasco
1 eier
sout en peper
olyfolie, vir braai
20 g roket
4 pitabrode
100 g gekoopte hoemoes
100 ml tzatziki (gekoop of maak jou eie)
20 g ingelegde rissies
10 g koljanderblare
Só maak ’n mens:
1. Kap die ui en knoffel fyn en braai in ’n bietjie canola-olie tot sag en deurskynend. Verwyder die pan van die hitte en laat afkoel.
2. Plaas die vleis in ’n groot bak en geur met die komyn, paprika, suurlemoensap en Tabasco. Voeg die knoffel en uie by asook die eier, sout en peper en meng deeglik.
3. Verdeel die vleismengsel in vier ewe groot dele en vorm in frikkadelle (patties). Vir die beste resultate, laat die frikkadelle in die yskas rus vir ten minste ’n uur voordat jy dit gaarmaak.
4. Bestryk die frikkadelle met ’n bietjie olyfolie en braai dan tot so gaar soos jy daarvan hou oor die kole of in ’n riffelpan.
5. Plaas roket in elke pitabrood, gevolg deur die frikkadel. Skep hoemoes en tzatziki bo-op en garneer met die rissies en grofgekapte koljanderblare. Burgers is op hul beste saam met yskoue bier, en dié pikante burger is perfek saam met ’n Peroni of Stellenbrau Craven Craft Lager.
Foto: Craig Fraser, A Life Digested
Comments