Malvalekkers
- Leon Cronjé en Andrea Hallam
- May 21, 2015
- 2 min read

Malvalekkers
Tuisgemaakte malvalekkers smaak glad nie soos dié wat jy in die winkels koop nie – dit is soos om ’n wolkie in jou mond te sit. Jou soetlief se hart sal sommer warm klop as jy vir haar ’n geskenkpakkie maak met dié vanielje-heerlikhede. Die afmetings is miskien ’n bietjie vreemd (water in gram?) maar wanneer jy lekkergoed maak, moet jy maar mooi by die hoeveelhede bly.
Jy het nodig:
224g witsuiker
½e glukose (beskikbaar by apteke of bakwinkels)
5ml vanieljepasta
98g water
1 (30g) eierwit
5½ gelatienvelle
Só maak ’n mens:
1. Meng die suiker, glukose, vanieljepasta en water en laat dit opkook tot 120°C op jou lekkergoed-termometer.
2. Laat die heel gelatienvelle ’n rukkie week in water, druk die oortollige water uit en roer die gelatien by die suikerstroop. Klits deeglik om te meng.
3. Klits die eierwit in ’n elektriese menger totdat sagte punte vorm. Klits die suikerstroop in ’n dun straaltjie by, laat dit teen die kant van die bak afloop (moenie dat dit aan die klitser raak nie anders gaan jy suikerdrade – spun sugar – maak). Basies is jy besig om ’n Italiaanse meringue te maak.
4. Klits nou die mengsel totdat die eierwit se volume verdubbel het en dit afgekoel het.
5. Skep die malvalekker in ’n gesmeer-de reghoekige bakkie wat met bakpapier uitgevoer is. Sit in die yskas om te stol.
6. Sprinkel versiersuiker oor jou werk-oppervlak en keer die malvalekkers uit. Gebruik ’n skerp mes (of ’n hartjiekoekievorm) en sny die malvalekker in blokkies of ander vorms van jou keuse.
*Wenk: As jy gekleurde malvalekkers wil hê, voeg net 'n bietjie voedselkleursel by die mengsel.
Comments