Nektarien-en-mascarpone- koekstruif
- Samarie Smith
- May 21, 2015
- 1 min read

Lewer 4-6 porsies.
Jy benodig:
8 ryp nektariens, gehalveer, ontpit en in wiggies gesny
4 pruime, in blokkies gesny
250 ml suiker
125 ml water
80 ml brandewyn
230 g-houer mascarpone
250 ml ongegeurde jogurt
100 ml strooisuiker
3 ml vanielje- of amandelgeursel
1 x 200 g-pakkie brosbrood, grof gekrummel
vars kruisementblare, ’n paar fyngekap en ’n paar heel
handvol gevlokte, geroosterde amandels om oor te sprinkel
Só maak ’n mens:
1. Sit die nektarienwiggies en pruime eenkant in ’n bak.
2. Verhit die suiker en water saam tot die suiker gesmelt is.
3. Verhit verder, sonder om te roer, tot kookpunt en prut tot ’n ligte stroop vorm. Voeg die brandewyn by (versigtig, dit mag opvlam) en laat net-net borrel.
4. Verwyder van die hitte en giet oor die nektarienwiggies. Laat staan minstens 20 minute lank en verkoel totdat jy gereed is om die poeding aanmekaar te sit.
5. Klits die mascarpone, jogurt, strooisuiker en geursel saam tot glad.
6. Skep lagies gekrummelde brosbrood in mooi glase, gevolg deur ’n lagie mascarponemengsel en dan ’n lagie nektarienwiggies en pruime. Sprinkel ’n klein bietjie gekapte kruisement oor en herhaal die lae. Eindig met ’n lagie nektariens en kruisement.
7. Drup ’n bietjie van die brandewynstroop waarin die nektarien gelê het bo-oor en rond af met gevlokte, geroosterde amandels.
Foto: Samarie Smith
Comments