Pak choi, versuikerde okkerneut en bokmelkkaas-slaai
- Seline & Leandri van der Wat
- May 21, 2015
- 2 min read

Genoeg vir 4.
Jy het nodig:
200 g beet
8 koppe pak choi
30 ml olyfolie
Sout en peper na smaak
80 g okkerneute
60 ml suiker
80 ml kookwater
100 g bokmelkkaas
’n groot knypie van elk neutmuskaat en gedroogde gemmer
Kappertjieblare (ons het ons s’n in ons tuin gepluk)
4 radyse, met hul blare nog aan
150 g radicchio-blare (of rooikool)
Vir die slaaisous:
15 ml heuning
15 ml Hollandse mosterd
45 ml suurlemoensap
5 ml vars origanumblaartjies
250 ml olyfolie
Só maak ’n mens:
1. As jy baba-beet gebruik, skil en besprinkel met sout en peper. Plaas in ’n oondvaste bak en sprinkel ook olyfolie oor. Rooster in die oond by 180 °C tot sag (sowat 40 minute). As jy groot bete gebruik, sny dit in kleiner stukkies en volg die stappe hierbo. Laat die beet afkoel voordat jy begin om die slaai te maak.
2. Sny die pak choi in die lengte middeldeur en besprinkel met 15 ml olyfolie en sout. Braai in ’n warm riffelpan tot dit mooi begin kleur kry (dit moet egter nie pap word nie).
3. Om die versuikerde okkerneute te maak, meng die suiker met die kookwater. Roer tot die suiker heeltemal opgelos het. Voeg die neutmuskaat en die gemmer by. Plaas die neute in ’n mengbak en voeg die suikerwater by. Roer tot die neute deeglik met die mengsel bedek is. Voer ’n bakplaat uit met kleefwerende bakpapier of ’n silikoon-matjie en versprei die neute eweredig daaroor. Rooster nou die neute by 180 °C in die oond tot bruin en klewerig. Onthou om die neute gereeld om te draai sodat hulle eweredig verbruin (dit behoort net sowat 5 minute te neem – hou die neute fyn dop sodat hulle nie brand nie). Laat die neute afkoel voordat jy dit van die bakplaat verwyder.
4. Om die res van die bestanddele voor te berei, krummel die bokmelkkaas, sny die radyse middeldeur en kap die radicchio of rooikool grof. Pak al die bestanddele op ’n mooi slaaibord.
5. Om die slaaisous te maak: Meng die mosterd, heuning, suurlemoensap en origanumblaartjies in ’n mengbak. Klits tot gemeng en voeg dan ’n knypie sout en peper by. Klits die olie stadig by en giet die sous dan oor die slaai of sit dit in ’n mooi bekertjie langs die slaai voor.
Kommentare