Rafeltjie-varkblad met taaivinger-BBQ-sous
- Errieda du Toit
- May 21, 2015
- 2 min read

“Ek bly vanjaar weg van lamsboud, tjops en selfs van braaivleis,” vertel Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger van Kokkedoor en aanbieder van 'Die kos wat ons ken' op RSG.
“Ek vervang die gammon met varkblad. Gepluisde vark, oftewel 'pulled pork' (teen sowat R65 per kg), word met ’n droë speserymengsel ingevryf en stadig die vorige dag in die oond gaargemaak. Uitgepluis bied een blad maklik kos vir tot 14 mense.
“Daarby maak ek Viëtnamese pannekoekies wat gevul word met die fyn vark, en ’n horde klein bygoedjies.
“Elkeen vul en rol hul eie.
“Pulled pork is boonop nou groot kosnuus.
“Gebruik die ekonomiese varkblad wat met die lang, stadige klam hitte letterlik uitmekaar rafel.”
Genoeg vir 8-10 ruim porsies.
Jy benodig:
1 varkblad, met been in, vel en vetlaag afgesny (sowat 2,2 kg)
15 ml bruinsuiker
10 ml fyn komyn
10 ml paprika
7,5 ml droë mosterdpoeier
7,5 ml sout
5 ml peper
15 ml olyfolie
2 wortels, geskil en grofgekap
2-3 uie, geskil en grofgekap
4 knoffelhuisies, geskil en gekneus
1 blikkie bier
1 blikkie gekapte tamaties
3 lourierblare
Vir die taaivinger-BBQ-sous (onmisbaar by pulled pork):
300 ml tamatiesous
80 ml donker bruinsuiker
30 ml melasse
2 knoffelhuisies, fyngemaal
60 ml appelasyn
30 ml Worcestersous
10 ml paprika
5 ml peper
5 ml mosterdpoeier
’n mespunt rooipeper
’n skud of twee Tabasco
Só maak ’n mens:
1. Vryf die blad oraloor in met ’n invryfmengsel van die suiker, komyn, paprika, sout en peper. Laat rus 30 minute.
2. Verhit olie in oondskottel oor mediumhoë hitte en verbruin die vleis sowat 3 minute per kant.
3. Haal vleis uit die skottel en hou eenkant. Voeg die wortels, uie, knoffel, bier, tamatie en lourierblare by. Kook liggies op en krap bruin stukkies los van die bodem.
4. Plaas vleis terug, sit deksel op en stowe sowat 3 ½ uur by 160 °C tot die vleis baie sag is en maklik van die been afkom. Haal vleis uit (behou sous) en flenter met twee vurke of met die hand. Die vleis rafel makliker terwyl dit nog warm is.
5. Kook intussen die pansous af tot daar 2 koppies vloeistof oor is.
Voor opdiening: Meng die vleissous deur die gepluiste vark. Bedien warm met tuisgemaakte BBQ-sous op roosterkoeke, sagte broodrolletjies, pannekoekies of tacos met koolslaai, mayonnaise, piekels, slaaiblare, sprietuie, vars koljander en gerasperde wit cheddar.
Om die sous te maak: Plaas die sousbestanddele in ’n medium kastrol, roer deur en prut oor matige hitte vir sowat 12 minute tot dik en donker.
Comentários