Seekospot
- Samarie Smith
- May 21, 2015
- 2 min read

Bestanddele
800 g geelstert, in blokke gesny
40 mediumgroot garnale, skoongemaak, maar met die doppe steeds aan (die afskillery rek die kuier langer uit, maar as jou gaste kieskeurig is, skil die spulletjie maar af)
800 g gemengde seekos
800 g gapermossels, in skulpe
15 ml bruinsuiker
15 ml sojasous
sap van twee suurlemoene
handvol basiliekruid, grof opgekap.
handvol pietersielie, grof opgekap
1 blikkie kokosneutroom
30 ml olyfolie
40 ml botter
2 groot uie, opgekap
4 knoffelhuisies, fyngekap
6 cm-stuk gemmerwortel, gerasper
20 ml seekosspeserye
sout en peper na smaak
250 g sampioene, opgesny
2 blikkies heel tamaties
een blikkie tamatiepuree
375 ml visaftreksel
200 ml witwyn
Só maak ’n mens:
Die kuier om die vuur terwyl julle vir kole wag, neem die langste. Want as die potjie eers aan die gang is, gaan hy vinnig. Berei alles voor die vorige dag voor sodat julle sommer so kuier-kuier die potjie se pens kan stop.
Sprei die kole uit vir matige hitte en balanseer die plat pot op ’n driepootstaander. Braai die uie, knoffel, gemmer en speserye vir sowat 3 minute in die olie.
Voeg die sampioene, tamaties, visaftreksel, wyn, suiker, sojasous en kruie by en prut vir 15 tot 20 minute.
Skep ¾ van die sous uit en pak die geelstert onder. Giet ’n laag sous bo-oor en pak die gemengde seekos uit. Nóg ’n laag sous en dan jou gapermossels en garnale. Moenie die pot meng nie.
Druk die suurlemoensap bo-oor alles uit, voeg die kokosneutmelk by en laat die spulletjie prut vir 10 tot 15 minute.
Verwyder van die kole, maak die pot in die middel van die etenstafel staan en dien op. Rond af met pietersielie en basiliekruid en sit dit voor saam met basmati-rys en knoffelbrood.
Foto: Samarie Smith
Comments