Amerikaanse pampoentert
- Leandri & Seline van der Wat
- May 22, 2015
- 2 min read

Heerlike tradisionele Amerikaanse pampoentert
Jy het nodig:
1 rol (400g) bevrore skilferkorsdeeg
1,2kg rou pampoen
3ml kaneel
3ml neutmuskaat
1 vanieljepeul, middeldeur gesny
230g roomkaas
250ml strooisuiker
5ml vanieljegeursel
1 eier
2 eiergele
125ml room
125ml melk
60ml gesmelte botter
250ml geklopte room
250ml gekaramelliseerde pekanneute
meel
Só maak ’n mens:
1. Skil die pampoen en verwyder die pitte. Sny in blokkies, plaas in ’n kastrol en vul met kookwater om die pampoenblokkies net-net te bedek. Voeg die kaneel, neutmuskaat en vanieljepeul by die water om dit te geur. Prut tot die pampoen sag is, dreineer en verwyder die vanieljepeul. Blits die pampoen met ’n handmenger tot heeltemal glad.
2. Ontdooi die bevrore skilferkorsdeeg en plaas op ’n meelbestrooide oppervlak. Rol die deeg uit tot helfte so dun as sy oorspronklike dikte.
3. Smeer agt mini-tertborde goed met botter en voer uit met die skilferkorsdeeg. Bedek die deeg met bakpapier en vul met rou lensies of bone om te keer dat die deeg te veel oppof. Bak die tertkorse 10 minute lank by 180°C. Verwyder die bone of lensies en die papier en bak nog 5 minute.
4. Meng die roomkaas en die pampoen tot glad. Voeg die vanieljegeursel en strooisuiker by en hou aan roer tot deeglik gemeng. Voeg stadig die eier (en eiergele) by en hou aan klits terwyl jy ook die melk, room en gesmelte botter byvoeg.
5. Vul die gebakte tertkorse met die pampoenmengsel en bak 15minute lank by 180°C. Haal uit die oond en laat minstens 10 minute afkoel voordat jy geklopte room bo-op skep en dit verder versier met die gekaramelliseerde neute. Sit dadelik voor.
Foto: Leandri van der Wat
Commentaires