BAKLAVA (Neutetert)
- Dirk en Reinet Nagtegaal
- May 22, 2015
- 2 min read

Baklava vir koningskinders
“My heel gunsteling van alle nageregte wat Dirk nog ooit gemaak het, is Baklavah. Ons het dit al in Egipte, Marocco en selfs in Majorca raakgeloop op spyskaarte. In Mykonos, verduidelik ’n sjef vir ons dat vroue vir baie dekades in harems nooit self kon baklavah eet nie, dit was net vir mans gemaak en bedien op die borde en in die paleise van die rykes. Baklavah was meditterreense rykmans- snoepgoed. Die pistachios (neute) daarin word steeds beskou as ’n duur afrodisiak, en om die liefdeslus verder aan te vuur, word daar vandag nog ook kaneel ingegooi vir vrouens en cardamon saad vir mans,” sê Reinet.
18-24 porsies
Benodig:
Vir die vulsel:
100 g okkerneute
50 g pistasieneute, gepel (of dennepitte)
50 g amandels
1 t fyn kaneel
½ t gemengde speserye
⅓ k strooisuiker
2-3 pakke (500 g elk) fillodeeg
350 g botter, gesmelt
Vir die stroop:
1½ k strooisuiker
1¾ k water
sap van ½ - ¾ suurlemoen
½ k heuning
Vir garnering:
vars vrugte en Griekse jogurt
Metode:
1. Voorverhit die oond tot 170 °C.
2. Smeer ’n groot oondbak (so 25 x 34 cm).
3. Verwerk al die neute in die voedselverwerker tot grof gekap, voeg die speserye en strooisuiker by en meng deur.
4. Sny die fillodeeg so groot soos die voorbereide bak. Bedek die fillodeeg met ’n klam doek om te voorkom dat dit uitdroog.
5. Pak so 5-8 lae fillodeeg, elk met gesmelte botter bestryk, op die bak se boom. Besprinkel goed met die neutmengsel.
6. Pak nog so 3 lae fillodeeg bo-op, elk met botter bestryk. Sprinkel weer neute oor. Herhaal nog 3 keer met so 3 lae fillodeeg en neute; eindig met 3-5 lae fillodeeg.
7. Gebruik ’n skerp mes en sny diamantvorms op die boonste laag of twee fillovelle. (Moenie regdeur sny nie.)
8. Bak vir 40 minute.
9. Verhit al die bestanddele vir die stroop, buiten die heuning, tot kookpunt. Roer deurentyd sodat die suiker opgelos is voor dit begin kook.
10. Verlaag die hitte en laat prut tot stroperig – sowat 10 minute. Voeg die heuning by.
11. Giet die warm stroop oor die baklava wanneer dit uit die oond kom. Laat vir minstens 4 uur staan. 12. Sny in diamantvorms en sit voor met vrugte en Griekse jogurt.
Comments