Bier-en-marmelade-hoender
- Leandri & Seline van der Wat
- May 22, 2015
- 1 min read

Dis ’n goeie idee om die hoender oornag te marineer sodat die geure kans kry om te ontwikkel. Ons het ’n donkerder, bitter moutbier (stout) gebruik as teenwig vir die soet marmelade, maar enige bitter bier sal werk.
Jy het nodig:
■ 380ml (1 blikkie) donker bier
■ 200g lemoenmarmelade
■ 100ml sonneblomolie
■ 1t komynsaad
■ 8 hoenderstukkies
■ 1t knoffel, fyngekap
■1t paprika
■20g vars pietersielie, gekap
■2 lourierblare
■sap en skil van 1 suurlemoen
■sout en peper, na smaak
Só maak ’n mens:
1. Meng die marmelade, suurlemoenskil, komynsaad, pietersielie, knoffel, paprika, olie en lourierblare saam in ’n groot mengbak.
2. Voeg die hoenderstukkies by en meng goed sodat die marinade die vleis deeglik bedek.
3. Voeg die bier by en roer liggies. Bedek die bak, plaas dit in die yskas en marineer ten minste twee uur lank, maar verkieslik oornag.
4. Wanneer jy gereed is om die hoender gaar te maak, verhit ’n groot pan op die stoof en braai die hoender tot gaar. Bedruip gereeld met die marinade. Jy kan natuurlik ook die hoender oor die kole gaarmaak.
5. Druk suurlemoensap oor die gaar hoender en geur na smaak met sout en peper. Sit voor saam met gebraaide mielies, vars broodrolletjies en bros uieringe.
Foto: Seline van der Wat
Comments