Drywende meringue-eiland met karamel-nektariens
- Errieda du Toit
- May 22, 2015
- 2 min read

Bedien 8-10.
Die kinkel wat my gelok het na hierdie klassieke nagereg is die gekarameliseerde perskes en die perskegegeurde panstroop wat saam met dit bedien word, pleks van vla. Die inspirasie vir die resep kom uit die Donna Hay-tydskrif.
Jy benodig:
. 330 g strooisuiker (om karamel te maak)
. 60 ml water
. 9 eierwitte
. Stewige knippie sout
. 1 Vanieljepeul, geskraap of 5 ml goeie vanielje-ekstrak
. 165 g ekstra strooisuiker (om meringue te maak)
. 8 – 10 nektariens, gehalveer en pitte verwyder
. Sagte bruinsuiker
Só maak ’n mens:
Voorverhit die oond tot 160°C.
Maak karamel: Plaas die suiker en water in ’n medium kastrol oor matige hitte en roer tot die suiker opgelos het. Was die suikerkristalletjies wat aan die binnekant van die kastrolwand vorm met ’n nat kwassie af.
Laat dit kook vir sowat 7 minute, sonder om te roer, tot dit ’n goue kleur kry. Moenie té donker kook nie – anders raak dit bitter en te taai.
Gooi die karamel in ’n 2,5 liter (21,5 cm) bundt-pan (’n pan met ’n gat in die middel) en kantel dit versigtig om die wand van die pan uit te voer; skep met ’n lepel om die tuit in die middel uit te voer.
Maak meringue: Klits die eierwitte, sout en vanielje teen hoë spoed saam in ’n groot mengbak tot sagte punte vorm.
Voeg die ekstra strooisuiker lepel vir lepel by en klits baie goed voor die volgende skeppie suiker. Klits nog ’n minuut na al die suiker bygevoeg is.
Skep die meringue in die bundt-pan, en maak seker dit kom in elke hoekie uit.
Plaas die pan in ’n oondbak en gooi kokende water in die oondpan. Die bundt-pan moet so drie-kwart-diep in die waterbad staan.
Plaas op die tweede laaste rak in die oond (anders rys die meringue dalk tot teen aan die roosterelement). Bak vir 30 minute, skakel die oond af en los vir nog 30 minute in die oond.
Haal uit die oond en laat staan sowat 5 minute sodat die koek van die pan af wegtrek.
Plaas ’n opdienbord (met ’n rand) bo-op die koek en keer die koek uit die pan. Die stroop sal ’n poel om die koek vorm.
As daar enige karamel onder in die pan oor is, verhit die pan oor matige hitte en drup oor die koek. Laat afkoel.
**Opsioneel: Bedek met versuikerde roosblare.
Maak karamelperskes: Druk die gesnyde kant van die perskehelftes in bruinsuiker, plaas dit suikerkant na onder in ’n pan en karameliseer vir 2-3 minute oor matige hitte. Sit die perskes en panstroop voor saam met die koek.
Comments