Geelwortels vat ’n geurbad
- Errieda du Toit
- May 22, 2015
- 1 min read

As jou wortels uitgegroeide lummels is, gee dit ’n lekker wyn- en olyfoliebad met preie as badmaat.
Die wortel-inspirasie kom uit Turquoise: A Chef’s Travels in Turkey van Greg en Lucy Malouf en sal sy plek volstaan op ’n mezze-bord.
Ek het dit met groot sukses by die Sondag-lamsboud bedien, met die sitrusgeure wat deur die ryk vetterigheid van die lamsvleis sny.
Sny 10 geelwortels, 4 klein preie en 2 rooirissies in repe en plaas dit in ’n kastrol saam met die volgende: 4 knoffelhuisies, ’n lang reep lemoenskil, 2 lourierblare, ’n paar takkies tiemie, ½t elk droë kruisement en gekraakte peperkorrels, 5 kardemom-peule, 1 teelepel liggies gekraakte koljandersade, sap van 1 suurlemoen, 1½ koppie witwyn, 1½ koppie olyfolie, 2 koppies water; sout na smaak.
Bedek die groente met ’n stuk waspapier of bakpapier en druk dit liggies plat om knus binne die kastrol te pas.
Prut sowat 25 minute en laat afkoel in die wyn- en oliebad. Lig die groente uit die bad en haal die grootste stukke speserye uit as jy wil.
Comments