Grondboontjiebotter-affogato met koffie-brosbroodstafies
- Leandri & Seline van der Wat
- May 22, 2015
- 2 min read

Dié nagereg is maklik om te maak en ideaal vir die warm dae van die laatsomer.
Genoeg vir 4 mense.
Jy het nodig:
.8 skeppe grondboontjiebotterroomys (of vanieljeroomys)
.4 sopies (30ml elk) espresso
.4 sopies warm water
.4 sopies Amarula
.80g amandelvlokkies
Vir die brosbrood:
.120g botter
.60g strooisuiker
.8ml kitskoffiepoeier opgelos in 3ml warm water
.120g meel
.60g mielieblom (Maizena)
Só maak ’n mens:
1.Voorverhit die oond tot 180°C.
2.Meng die espresso en warm water en laat afkoel tot kamertemperatuur.
3.Maak die brosbrood deur die botter en strooisuiker saam te klits.
Voeg dan die opgeloste koffie by en klits weer.
4.Voeg die meel en mielieblom by en meng met jou hande. Die mengsel sal aanvanklik krummelrig lyk, maar sal bymekaar kom as jy dit stewig saamdruk. Draai toe in kleefplastiek en sit die deeg vir 10 min. in die vrieskas.
5.Druk die koue deeg in ’n gesmeerde broodpannetjie. Druk hier en daar met ’n vurk gaatjies in en sny dan die deeg in stafies van 1cm breed met ’n skerp mes (dit sal dit baie makliker maak om die gebakte brosbrood in vingers te sny).
6.Bak in die voorverhitte oond vir 30 min. Haal dan uit die pannetjie en sny langs jou oorspronklike lyne in netjiese stafies.
7.Rooster die amandels in ’n pan tot liggies goudbruin.
8.Om die nagereg saam te stel: Giet ’n sopie Amarula in ’n glas (een sopie per persoon) en voeg dan ook een skeppie roomys by. Giet elke persoon se espresso-en-watermengsel oor die eerste skep roomys. Skep dan nog ’n skeppie roomys in elke glas en sprinkel ook die amandels oor. Sit voor met die brosbroodstafies langs die glas.
Sit dit dadelik voor, voordat die roomys te veel smelt.
Comments