Jerusalem-koejawel-en-aarbei-compote met okkerneutfrummel
- Errieda du Toit
- May 22, 2015
- 2 min read

Gebruik enige vrugtekombinasie van jou keuse.
Ek het aarbeie saam met die koejawels ingespan om die mooi pienk kleur te gee. Speel verder met soet speserye soos wonderpeper, kaneel, neutmuskaat, foelie of naeltjies of vars kruie soos marjolein en basielkruid of met sitrusskil.
Vir die compote
.4-6 koejawels (300g), ongeskil, maar ontpit en in 3cm-stukke gesny
.300g aarbeie, gewas, stingels afgesny en in helftes gesny
OF 6 pruime, ontpit en in kwarte gesny
.30ml (2E) strooisuiker
.15ml (1E) suurlemoensap
.15 ml (1E) water
Metode
Plaas die bestanddele in ’n mediumgrootte kastrol en stowe oor lae hitte vir sowat 15-20 minute tot die vrugte heeltemal sag is. Roer nou en dan.
Indien jy ander vrugte gebruik, pas net die hoeveelheid suiker en die kooktyd aan na jou smaak.
Vir die okkerneutfrummel
(crumble)
.40g volgraanmeel
.40g koekmeel
.50g koue ongesoute botter, in 2cm-blokkies gesny
.knippie sout
.100g okkerneute, grofgekap
Metode
Om die krummel te maak: Verhit die oond tot 190°C.
Plaas al die meel in ’n groot mengbak saam met die botter, suiker en sout.
Vryf die mengsel met die vingerpunte tot die tekstuur soos broodkrummels lyk. Roer die okkerneute by.
Plaas bakpapier op ’n bakplaat, strooi die mengsel op en bak vir 15-20 minute tot die krummels deurgekook en ’n ligte goudbruin is.
Gegeurde room*
.100g Griekse jogurt
.100g mascarpone
.150ml room (*ek het dit uitgelos, want dit is dalk te geil en rojaal)
.15ml (1E) strooisuiker (of maak soeter na smaak)
.½t vanieljegeursel
.½t fyn kardemom
.½steranys, fyngemaal
Metode
Plaas die bestanddele in ’n groot mengbak en klop tot sagte punte, maar wees versigtig dat jy dit nie te veel klits nie. Die mengsel is aanvanklik redelik dik, maar ’n minuut se klits is voldoende.
Skep ’n lepel room onderin die
poedingbakkie, gevolg deur die vrugte en dan die krummels. Dit is besonder lekker as dit goed verkoel is.
Comments