Karamelperskes met makadamia-frummel
- Kate Bracks
- May 22, 2015
- 2 min read

Genoeg vir 4
Jy het nodig
Vir die karamelperskes:
4 ryp perskes
220g strooisuiker
100ml water
80ml warm water, ekstra
Vir die makadamia-frummel:
75g meel
55g bruinsuiker
’n knypie sout
60g botter, in blokkies gesny
60g makadamianeute, grofgekap
125ml dubbeldik room
Só maak ’n mens:
1. Trek ’n kruisie op die onderkant van elke perske en plaas dit in ’n diep bak.
Giet kookwater oor en laat ’n minuut staan. Dreineer en wanneer dit ’n bietjie afgekoel het, trek die skille af. Sny in wiggies en plaas in ’n hittebestande bak.
2. Maak die karamelperskes: Meng die suiker en die 100ml water in ’n pannetjie.
Roer oor matige hitte totdat die suiker opgelos het.
Verhoog die hitte en laat opkook. Kook, sonder om te roer, totdat die mengsel 165°C op ’n suikertermometer bereik (dit moet ’n ligte goudbruin kleur wees). Dit behoort jou tussen 10 en 15minute te neem.
3. Voeg die ekstra warm water versigtig by. Giet die warm karamel oor die perskes en laat afkoel.
4. Maak die frummel: Voorverhit die oond tot 180°C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
5. Meng die meel, suiker en sout in ’n mengbak. Voeg die botter by en vryf dit met jou vingers in totdat dit soos growwe broodkrummels lyk.
6. Voeg die neute by en versprei dan die mengsel op die voorbereide bakplaat. Bak vir 15-20minute of tot goudbruin. Laat afkoel en breek met jou vingers op.
7. Om voor te sit: Skep die perskes in poedingbakkies.
Skep ’n bietjie van die karamel oor en sprinkel die frummel bo-oor. Sit voor saam met die room.
– Uit The Sweet Life deur Kate Bracks (2012). Die resep is met die toestemming van Random House Australia gepubliseer.
Foto: Dan Magree Photography
Comentários