Katjiebotter-en-jêm-toebroodjiepoeding
- Errieda du Toit
- May 22, 2015
- 1 min read

’n Speelse kykie na die toebroodjies van ons skooldae, vermeng met die nostalgie van broodpoeding.
Bedien 4
Jy het nodig:
.1/3 koppie growwe grondboontjiebotter
.8 dik snye dagoue witbrood
. 1/3 koppie frambooskonfyt
.sagte botter vir smeer
.250ml slagroom
.160ml melk
.3 eiers + 1 eiergeel
.80g strooisuiker
.5ml vanieljegeursel
. bruinsuiker (demerara) vir sprinkel
So maak mens:
Voorverhit die oond tot 160°C.
Smeer twee snye met grondboontjiebotter aan die een kant en sit twee snye bo-op.
Smeer nou die ander twee snye met konfyt en plaas oorblywende twee snye bo-op.
Sny die korsies af, sny elke toebroodjie in 4 kleiner toebroodjies (blokkies, nie driehoeke nie).
Botter elke mini-toebroodjie en pak in ’n kleinerige oondvaste bak wat sowat 625ml kan bevat. Meng die room, melk, eiers en ekstra eiergeel, suiker en vanielje in ’n bakkie en klits. Gooi dit geleidelik oor die brood en laat week 2 minute lank.
Besprinkel die broodpoeding met die bruinsuiker. Plaas die bak in ’n oondpan. Vir die waterbad, gooi genoeg kookwater tot halfpad teen die rand van die poedingbak. Bak 40-50 min. lank tot net gaar. Haal uit en laat staan 10 min. Bedien met vla.
コメント