Kweper-frummeltert
- Karla Janse van Vuuren
- May 22, 2015
- 1 min read

Ek hou daarvan om ’n bietjie donker bruinsuiker by die frummel te voeg, want dit gee ’n lekker karamelsmakie. Jy kan een groot tert maak, of sowat ses kleintjies in ramekins.
Jy benodig:
sowat 2k (1½ bottel) ingelegde kwepers (of meer, indien jy so verkies)
3ml kaneel
¾k suiker (of ½k suiker en ¼k donker bruinsuiker)
1k meel
5ml bakpoeier
1ml sout
1 ekstragroot eier
100g botter (nie margarien nie)
Só maak mens:
1. Smeer die tertbord of ramekins met botter. Voorverhit die oond tot 180°C.
2. Skep die kwepers in die tertbord of ramekins en giet ook ’n bietjie van die stroop by.
3. Meng die kaneel, suiker, meel, bakpoeier en sout saam (as die bruinsuiker klein klontjies bly, moenie jou daaroor bekommer nie).
4. Klits die eier liggies. Maak ’n holte in die middel van die droë bestanddele en giet die eier daarin. Meng met ’n vurk en dan verder met jou vingers totdat die mengsel soos growwe broodkrummels lyk.
5. Smelt die botter in die mikrogolf. Strooi die frummelmengsel oor die kwepers. Sprinkel die gesmelte botter oor sodat dit hier en daar in die frummels intrek.
6. Bak vir 30 minute tot goudbruin en sit warm voor met dubbeldik plaasroom.
Foto: Gerrie Janse van Vuuren
Comments