Panna cotta met suurroom en witsjokolade
- Leandri & Seline van der Wat
- May 22, 2015
- 2 min read

Jy het nodig:
Vir die panna cotta:
■ 2 Robertsons-lourierblare
■ 125ml room
■ 125ml suurroom
■ 65g witsjokolade
■ 20ml versiersuiker
■ 1 gelatienvelletjie
■ 500ml yswater
Vir die springmielie-karamel (popcorn brittle):
■ 125ml springmieliepitte
■ 15ml kanola-olie
■ 250ml strooisuiker
■ 30ml vloeibare glukose (beskikbaar by bakwinkels)
Vir die botterkaramel:
■ 140g Demerara-suiker
■ 115g gouestroop
■ 115g room
■ 30g botter
■ Robertsons-rooipeper, na smaak (ek gebruik sowat 3ml)
■ ’n groot bak met yswater
Vir die bessiesous:
■ 150g varsof bevrore frambose
■ 5ml suurlemoensap
■ 50g strooisuiker
■ 1 vanieljepeul
Vir die witsjokolade-krummels:
■ 60g botter
■ 60g meel
■ 60g bruinsuiker
■ 60g fyn amandels
■ 50g witsjokoladesplinters
Só maak ’n mens:
1. Om die panna cotta te maak, plaas die gelatienvel in die yswater om dit sag te maak.
2. Meng die lourierblare, room, suurroom, versiersuiker en witsjokolade in ’n kastrol. Roer aanhoudend tot glad en deurwarm.
3. Verwyder die gelatienvel van die yswater en roer dit by die warm roommengsel. Skep die lourierblare en giet die roommengsel in gesmeerde ramekinbakkies. Plaas ten minste vier uur lank in die yskas om te stol.
4. Maak intussen die springmieliekaramel: Verhit die olie in ’n groot kastrol en maak springmielies.
5. Plaas die springmielies in jou voedselverwerker en verwerk tot redelik fyn. Sprei dit op ’n silikoon-matjie uit.
6. Plaas die strooisuiker en glukose in ’n pannetjie en smelt oor lae hitte. Sodra die suiker gesmelt het, giet dit in ’n dun straaltjie bo-oor die springmielies. Laat die karamel hard word voordat jy stukke afbreek en eenkant gereed hou vir voorsit.
7. Meng al die bestanddele vir die botterkaramel in ’n kastrol en prut oor lae hitte totdat dit 108°C bereik (gebruik ’n suikertermometer). Plaas in die bak met ys en laat afkoel.
8. Om die bessiesous te maak, kook al die bestanddele saam in ’n klein kastrol vir sowat 10 minute. Verwyder die vanieljepeul en verwerk in ’n voedselverwerker tot glad. Vryf deur ’n sif sodat jy ’n gladde sous kan kry en sit opsy, gereed vir voorsit.
9. Om die witsjokoladekrummels te maak, klits die botter tot baie romerig. Voeg die ander bestanddele by, maar moenie te veel meng nie. Smeer die mengsel op ’n silikoon-mat sodat dit tussen 3mm en 5mm dik is. Bak vir 10 minute teen 180°C. Laat afkoel en maak fyn met ’n koekroller.
10. Om voor te sit (verwys na die foto): Plaas ’n panna cotta op elke bord en sit van die springmieliekaramel bo-op. Drup van die botterkaramel en bessiesous op die bord en sprinkel van die witsjokoladekrummels langs die panna cotta.
Foto: Seline van der Wat
Comments